Dié vakansie bied hope vermaak

Die Bothasaal in die skouspel­agtige Kango Grotte.

Die Bothasaal in die skouspel­agtige Kango Grotte.

Kuier op Oudtshoorn

Deur Ilze-Mari Gründling
DIT is wintervakansie (van 30 Junie tot 24 Julie) en vir inwoners – groot en klein – en besoekers aan Oudtshoorn en die Klein Karoo is daar beslis baie om te doen.

Gaan maak gerus ’n draai by die toerismeburo in Voortrekkerweg op Oudtshoorn (ingang oorkant die Oudtshoorn Munisipaliteit) vir inligting oor wat die dorp alles te doen aanbied.

Hierdie is party van die doendinge wat die toe­rismeburo aanbeveel:
• Die Buffelsdrift Game Lodge (6,5 km buite Oudts­hoorn) bied ’n borsel-en-voer-ervaring met olifante, olifant-stap-safari’s asook veld- en meerkatsafari’s.
• Die ikoon van die streek is die Kango Grotte, 30 km buite Oudtshoorn. Bespreek asb vooraf en maak so seker dat jy die Grotte op die tyd kan besoek wat jou pas (044 272 7410).
• Die Cango Caves Estate Zipline (079 189 8247) begin by die Grotte en neem jou op ’n opwindende rit tot by die Cango Caves Estate. Hulle bied tans ’n spesiale prys van net R200 vir leerders van 18 jaar en jonger aan.
• Ook op die Kango Grotte-pad is die Kango Volstruisplaas (15 km buite Oudtshoorn) en die Cango Wildlife Ranch net buite die dorp.
• Gaan stap in die Swartberge! Kontak gerus vir CapeNature (044 203 6300).
• Net buite Oudtshoorn op die George-pad is die Chandelier Game and Ostrich Farm wat volstruis-toere bied asook ’n rit in ’n wildreservaat, ’n Khoi San-kulturele toer en die geleentheid om kamele te voer.
• Olyfliefhebbers kan die De Rustica Olive Estate (net links van die N12 op pad na De Rust) besoek, asook die Surval Boutique Olive Estate wat olyftoere bied.
• Nog plekke om te besoek is die Highgate Ostrich Show Farm (op die Mosselbaaipad, afdraai na Volmoed), die meerkatte van Meerkat Adventures, Minwater Eco Adventures (R62 na Volmoed ) en die Safari Ostrich Show Farm op die Mosselbaaipad.
• As jy nie bang is vir hoogtes nie, maak gerus ’n draai by Skydive Oudtshoorn (Oudtshoorn Lughawe).
• Wilgewandel op die pad na die Kango Grotte bied ook verskeie aktiwiteite aan – soos kameelritte, roeibote, donkiekarritte, trampoliene, voer van diere, ghwarra-ghwarra-golf, waterfoefies en pedaalkarritte.
• Vir die wynproeërs is daar Doornkraal Padstal op die De Rust-pad, Grundheim (op pad na Volmoed) en Karusa Wynplaas (op die Kango Grotte-pad in Schoemanshoek).
• Kunsliefhebbers kan ArtKaroo in die Prince Vintcent-gebou in Baron van Reedestraat besoek, asook Bella Mia Pottery (15 km buite Oudtshoorn in Schoemanshoek), die Bottega Kunsgalery (Baron van Reedestraat) en die René Scribante Galery (Baron van Reedestraat).
Lus om terug te gaan in tyd? Besoek gerus die CP Nel Museum in Baron van Reedestraat (044 272 7306), die Afrikaanse skrywer CJ Langenhoven se huis Arbeidsgenot in Jan van Riebeeckweg (044 272 2968) of die Le Roux Dorps­- huismuseum in Hoogstraat ( 044 272 3676).

Nog ’n interessante besoekpunt is Latana Kaas by Matjiesrivier.

Al die aktiwiteite, behalwe die Kango Grotte se avontuurtoer, Meerkat Adventures en die Meerkatsafari by Buffelsdrift is kindervriendelik – daar is wel ouderdomsbeperkinge.
Geniet die vakansie!

Die zipline tussen die Kango Grotte en die Cango Caves Estate.

Die zipline tussen die Kango Grotte en die Cango Caves Estate.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?