De Rust spog nou met toerismekantoor!

Die nuwe toerismekantoor in De Rust is binne die winkel Gestewel en Gespoor in die hoof­straat geleë.             Foto verskaf

Die nuwe toerismekantoor in De Rust is binne die winkel Gestewel en Gespoor in die hoof­straat geleë. Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
DE RUST spog sedert 4 Desember weer met ’n toe­risme- en inligtingskantoor.
Die kantoor is binne die winkel Gestewel en Gespoor in die hoofstraat wat deur De Rust loop, geleë. Dit is deur die eienaars van die winkel, Jan en Theresa Venter geopen om toerisme op die dorp te bevorder.

Die Venters is ook die eienaars van House Martin Guest Lodge in De Rust.

“Ons probeer die hele streek bemark, insluitend al die agterpaaie en grondpaaie. Daar is soveel skatte hier waarvan niemand weet nie,” sê Jan.

“Ons wil nie net ’n pamflet in iemand se hand druk nie. Wanneer ons besoekers kry, wil ons dit regtig ’n merkwaardige ervaring maak. Ons werk hard daaraan om die behoeftes van ons besoekers te bepaal en hulle te help.”

Billy Engelbrecht, voorsitter van Oudtshoorn en De Rust Toerisme, sê dit is wonderlik dat die kantoor geopen het omdat De Rust nie ’n inlig­tingskiosk gehad het nie.

“Dit het ’n groot leemte in die dorp gevul. Jan en sy vrou het uit die goedheid van hul harte hul winkel beskikbaar gestel vir die toerismekantoor en ons is baie dankbaar daarvoor. Dit is iets wat ons al lankal wou doen, maar omdat daar nie genoeg finansiering is nie, kon ons nie ’n perseel bekostig nie.”

Jan en sy kollega, Francois van Rooyen, is deur Corleen Barnard van die Oudtshoorn en De Rust Toerismekantoor opgelei om die kantoor te bedryf en toeriste te help.

Vir enige navrae rakende die kantoor of vir inligting oor De Rust, kontak Jan Venter by 076 965 8888 of Francois by 078 638 1050 of stuur ’n e-pos aan derust@gmail.com.

Log in with your credentials

Forgot your details?