Calitzdorp hou weer binnekort Vetplantfees!

Verlede jaar se Vetplantfees.  Foto verskaf

DIE Calitzdorp Vetplantfees vind vanjaar van 22 tot 24 September plaas. Dié fees wat aangebied word deur die Ca-litzdorp Vetplantvereniging, wil ’n toonvenster wees vir Suid-Afrika se pragtige en skaars vetplante.

Vetplante van regoor die wêreld sal egter ook by die fees te sien wees.

Vetplantgeesdriftiges wat Calitzdorp tydens die fees besoek, sal deur ’n reeks aktiwiteite blootgestel word aan die wêreld van vetplante. Inheemse en skaars vetplante sal in die natuur besigtig kan word, terwyl van die skaars vetplante wat nie in kwekerye beskikbaar is nie, daar te koop sal wees. Kundiges sal ook raad gee oor hoe om die vetplante self te kweek en te versorg.

Die fees sal insluit:
• Velduitstappies onder die leiding van plaaslike kundiges;
• Opvoedkundige praatjies deur vetplantspesialiste;
• Werkswinkels oor hoe om vetplante te kweek en te versorg;
• Stallietjies met vetplante te koop;
• ’n Uitstalling van seldsame vetplante;
• ’n Uitstalling van botaniese kuns asook botaniese kuns wat regstreeks van kuns­tenaars gekoop kan word;
• ’n Veiling van seldsame plante; en
• Aktiwiteite vir kinders.

Toegang tot die fees is gratis.

Meer inligting oor die fees is beskikbaar op die Calitzdorp Vetplantvereniging se webwerf by www.vetplant.co.za.

Log in with your credentials

Forgot your details?