Belgiese studente geniet sterre en bobotie

Die Belgiese studente wat in Prins Albert skoolhou, is voor van links Margot van Antwerpen, Riani Rillaert en Amber Wouters, en agter van links Tine Bleuze, Kiama Steemans, Ellen Goudesone, Lex Verhaegen en Marie Macken.  Foto verskaf

Die Belgiese studente wat in Prins Albert skoolhou, is voor van links Margot van Antwerpen, Riani Rillaert en Amber Wouters, en agter van links Tine Bleuze, Kiama Steemans, Ellen Goudesone, Lex Verhaegen en Marie Macken. Foto verskaf

Deur Marlene Malan
VIR ’n groep Belgiese onderwysstudente wat weer vanjaar drie maande in Prins Albert woon en werk, is die Karoo-sterrehemel een van die mooiste ervarings en bobotie een van die smaaklikste Suid-Afrikaanse geregte. En die lekkerste Afrikaanse woor­de wat hulle tot dusver leer ken het, is “skootrekenaar”, “muurprop”, “bromponie” en “stort”, met “Jan Tuisbly se karretjie” die interessantste uitdruk­king.

Dit is nou al ’n instelling dat skole in die dorp jaarliks voor­deel trek uit die kennis en toegewydheid van studente van die Karel de Grote Hogeschool en die Artesis Plantyn Hogeschool in Antwerpen, met Marijke Coornaert-Badenhorst van dié stad wat die groep jaarliks hierheen vergesel.

Marijke en haar man, die kunstenaar Philip Badenhorst, kuier gereeld in Prins Albert.

Amber Wouters, Margot van Antwerpen, Ellen Goudesone, Kiama Steemans en Rani Rillaert gee vanjaar klas by Prins Albert Primêr, Tine Bleuzé spesialiseer in voorskoolse onderrig, met Lex Verhaegen en Marie Macken wat skoolhou by die Hoërskool Zwartberg en Albert College.

Die studente werk almal ook een dag per week by die POP-sentrum (Pathway out of Poverty) in die dorp, met bydraes aan die Prins Albert-vaardigheidskool.

Die studente vertel dat Suid-Afrika onmiddellik ’n groot indruk op hulle gemaak het – veral die hitte ná die ysige koue van Europa, asook ons natuurskoon.

“Dis ook ’n aanpassing om aan die linkerkant van die pad te ry,” vertel Amber, wat as woordvoerder vir die groep opgetree het.

“Prins Albert se mense is vriendelik en gasvry.”

So vertel hulle: “We houden enorm van die lekkere boboti en de mooie sterrenhemel die’s avonds verschijnt. Spijtig genoeg komen we ook wel eens vieze kakkerlakken of spinnen tegen, waar we niet zo een fan van zijn.”

Hulle verken die dorp op fietse wat vir die duur van hul verblyf aan hulle geleen word, en Zwartberg se kleuresport was nog ’n onvergeetlike avontuur. Hoewel Nederlands en Afrikaans susterstale is, vind hulle Afrikaans “een toffe (interessante) taal”.
“Ons moet ons ore spits om alles te begryp, maar ons kom al hoe beter reg hiermee. Soms praat Afrikaanssprekendes nogal vinnig.”

Daar is heelwat klankverskille tussen Nederlands en Afrikaans, vertel hulle. Baie woorde is dieselfde, maar word heeltemal verskillend uitgespreek, soos “deur”, “huis” en “kroon”.

Hulle is nou sowat twee weke hier, “en dit gaan al hoe beter met die pratery – te danke aan die taallesse van Marijke en Jakoba Visagie. Ons leer terwyl ons werk.”

Vir die studente is die verblyf in Suid-Afrika meer as net praktiese onderwyservaring: Hulle moet die hele voorafgaande jaar geld spaar om self hul reiskoste en akkommodasie hier te betaal.

“Die meeste van hulle moes saans of naweke werk om te spaar. En van die geld wat hulle verdien, gebruik hulle om onderrigmateriaal aan te koop,” vertel Coornaert-Badenhorst wat ook die jaarlikse tog op ’n vrywillige grondslag aanpak.
In hul vrye tyd wil hulle graag die Klein en Groot Karoo verken. Die groep vertrek weer einde Maart terug na Europa.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?