10/10 vir dié Winterfees

3 WinterDeKransBuite

Deur Liesel le Roux
HOPE atmosfeer en heerlike wyn, port en streeks­kos. Dit was van die hoogtepunte van ’n baie suksesvolle Calitzdorp Winterfees die afgelope langnaweek.

Calitzdorp se verblyfplekke was volbespreek met besoekers van so ver as Johannesburg, Kaapstad en Hermanus, terwyl dagbesoekers uit die streek ook in groot hoeveelhede by die stasieterrein se vrolike stalletjies en die wynkelders opgedaag het.

Zelma Kriek, voorsitter van die fees se reëlingskomitee, sê die Calitzdorpers is baie gelukkig met die verloop van die naweek se fees.

“Ons is baie tevrede; en volgens terugvoer ook die stalletjiehouers, wynkelders en besoekers. Hier was baie voete en die dorp het by die fees gebaat.”

Kriek sê die reëlingskomitee se doelwit om mense uit die dorp by die fees te betrek en mense uit die dorp en streek blootstelling te gee, was deel van die fees se sukses.

“Daar was byvoorbeeld die Donkiekarretjie Orkes van George wat die hele naweek gespeel het, en die Suid-Kaap Kinderkoor wat twee fantastiese vertonings gelewer het. Stalletjies is ook aan plaaslike mense beskikbaar gestel om hulle blootstelling te gee, en omdat toegang tot die stasie­terrein gratis was, het dit baie mense gelok.”

Sy sê ook die sekuriteits- en skoonmaakdienste by die fees is deur plaaslike mense gelewer.
Volgens Kriek is die sukses van die fees te danke aan die insette van elke lid van die reëlingskomitee en die bydraes van die inwoners.

“Dit is nie ’n fees waarmee ons geld wil maak nie, maar ’n fees waardeur ons mense na ons dorp wil lok, en dit het ons reggekry,” het sy gesê.

Vanjaar se Winterfees die afgelope langnaweek in Calitzdorp was ’n vrolike en ontspannende fees. Hier van links bo kuier feesgangers by De Krans, een van die dorp se wynkelders, en by die stasieterrein se stalletjies (foto bo en onder). Foto’s: Schalk le Roux

Vanjaar se Winterfees die afgelope langnaweek in Calitzdorp was ’n vrolike en ontspannende fees. Hier van foto heelbo kuier feesgangers by De Krans, een van die dorp se wynkelders, en by die stasieterrein se stalletjies (foto bo en onder). Foto’s: Schalk le Roux

3 WinterStasieSaal

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?