Western Hope wen taai stryd

Steve Lourens

Steve Lourens

Deur Wyndham Ewerts
DIE Western Hope-krieketspan het Pacaltsdorp United Saterdag op Pacaltsdorp in ’n SWD Premierliga-wedstryd met 6 lopies gewen.

Die wedstryd wat om 10:00 moes begin, het twee uur laat begin om die baanblad kans te gee om te dreineer ná swaar reën die vorige nag.

Gevolglik is die wedstryd tot slegs 34 boulbeurte per span verkort.
Western Hope het eerste gekolf en 137/3 op die telbord geplaas.

Steve Lourens (kaptein) het sy span van voor gelei met ’n onoorwonne 62* lopies. Hy is goed ondersteun deur die openingskolwer Charles Willemse (37).

Pacaltsdorp het daarna sy jaagtog belowend begin met goeie kolfbeurte deur veral Neil Hornbuckle (41) en Rowan Groenwald (25).

Western Hope se boulers het egter telkemale verhinder dat die tuisspan momentum kry deur paaltjies op kritieke tye te laat kantel.

In die laaste boulbeurt van die wedstryd het Pacaltsdorp slegs 10 lo­pies vir ’n oorwinning gekort, maar met suinige boulwerk het Jacques Campher (3/33) die tuisspan tot slegs 4 lopies beperk.
Met Pacaltsdorp se totaal op 130/9 in sy toegelate 34 boulbeurte wen Western Hope dus met 6 lopies.

Log in with your credentials

Forgot your details?