Union Stars dra weer die kroon!

Union Stars se A-krieketspan wat weer as SWD Premierligakampioen gekroon is nadat hulle Sondag op Langenhoven Gimnasium se krieketveld in die eindwedstryd met die A-span van George afgereken het.   (Foto verskaf)

Union Stars se A-krieketspan wat weer as SWD Premierligakampioen gekroon is nadat hulle Sondag op Langenhoven Gimnasium se krieketveld in die eindwedstryd met die A-span van George afgereken het. (Foto verskaf)

Deur Higgo Jacobs
DIE Union Stars Krieketklub het weer ’n uitsonderlike krieketseisoen beleef! Die klub se A-span het die SWD Premierliga gewen en die B-span die Reserweliga.

Die A-span het Sondag in die eindstryd op Langenhoven Gimnasium se veld op Oudtshoorn die A-span van George met 42 lopies verslaan, en die B-span het op Saterdag, 17 Maart, vir die B-span van George met 4 paaltjies geklop.

In die Premierliga-eindstryd Sondag het George die loot gewen en verkies om eerste veldwerk te doen, en hulle teen Obus Pienaar, SWD-kolwer van die Stars, vasgeloop.

Pienaar het briljant gekolf om 111 lo­pies van slegs 101 balle te moker. Hy het 2 sesse en 11 viere gemoker.
Hy is goed ondersteun deur Envirino Swartz wat 75 lopies bygedra het om Stars daartoe in staat te stel om ’n stewige totaal van 267 op die telbord te plaas.

George is hierna beperk tot 225 lopies in die toegelate 50 boulbeurte. Pienaar was met 3/46 ook Stars se beste bouler. Marcello Piedt 2/37 het ook goed geboul.

Union Stars gaan nou teen Wellington, Boland se klubkampioene, kragte meet om te bepaal wie die Wes-Kaap van 22 tot 26 April by die Momentum Klubkampioenskap in Pretoria gaan verteenwoordig.

• In Union Stars B se wedstryd die vorige naweek op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) het George eerste gekolf en was almal terug in die paviljoen vir ’n skamele 112 lopies in die toegelate 50 boulbeurte.
Union Stars moes kophou voordat hy die wentelling van 115 in die 40ste boulbeurt verbygesteek met nog vier paaltjies staande.

Log in with your credentials

Forgot your details?