Straatmylreeks om die draai

Prysgeld van altesame R95000 op die spel

OP Saterdag, 16 Desember, behoort Baron van Reedestraat op Oudtshoorn aan van ons land se voorste langasemblitse wat aan die Bestmed Klein Karoostraatmyl in dié straat gaan deelneem.
Die Klein Karoostraatmyl, wat omstreeks 09:00 begin, is deel van die Eden Straatmylreeks en sluit ook fietsrenne in.

Die tweede been van die Edenstraatmylreeks vind op Maandag, 18 Desember, op die NMU se Georgekampus plaas en die derde been twee dae later by die ATKV-terrein op Hartenbos.
Die totale prysgeld vir die reeks is R95000.

Dave van der Walt, operasionele bestuurder van KKA, sê die uniekheid van die Edenstraatmylreeks lê daarin dat elke dorp sy eie straatmylidentiteit behou. Aan die einde word dan ’n Grand Prix mans- en vrouewenner bepaal op grond van die meeste punte ingesamel oor die drie vertonings.
Vanjaar borg die Vrystaatse Universiteit weer die Grand Prix-deel van die reeks.

Soos in die verlede, poog die organiseerders om die top myl- en 1500 m-atlete in Suid-Afrika hierheen te lok en word alle universiteitklubs genooi.

Oor die afgelope drie jaar is reeds vyf droommyle (minder as 4 minute) in die reeks gehardloop deur Johan Cronje (3:52.60), Dumisane Hlaselo (3:55,71), Elroy Gelant (3:56,74) en Nyongo Amos (3:55,60 en 3:52,99).

Die myl-snelren op Oudtshoorn gaan van die land se top fietryers lok. Vanjaar word ’n fietsry-kermesse ook op die NMU-kampus aangebied.

Die reeks vind onder die beskerming van die Klein Karoo Atletiekfonds in vennootskap met ASWD, Eden Fietsry, NMU en die ATKV plaas.

Die kategorieë vir die atletiekstraatmyl is sub-juniors, juniors, 40+ en die elite ope. Daar is vanjaar ook spesiale pryse vir die eerste Eden/SWD- atlete oor die wenstreep. Die kategorieë vir die Oudtshoorn-­fietsrymylren en die NMU-kermesse is o.9, o.11, o.13, o.15, o.17, elite, o.23, veterane 35-49, en veterane 50+.

Top atlete en fietsryers van onder meer Kovsies, Maties, UWC, NWU (Pukke) en Elana Meyer se Edurocad word by die reeks verwag.

Onder die top fietsryers wat verwag word, is die Protea-ryers Louis Visser, Evan Carstens, Nolin Hoffman, Anriette Schoeman, Philo Verlaat, Marshall Hendriks, Arnold de Leeu en Jessica Gerber. Die Acendis-span – BestMed se ontwikkelingspan, kom ook deelneem.

Die inskrywings kan aanlyn gedoen word by www.edenmiles.co.za. Daar is ook meer inligting oor die reeks en verblyf op dié webtuiste.

Log in with your credentials

Forgot your details?