Steeds onoorwonne

DIE rugbyspan van Dysselsdorp Rangers het Saterdag sy onoorwonne status in die SWD Karoo-streekliga behou deur 19-19 gelykop te speel teen Swings van Haarlem.

Rangers was rustyd met 7-6 voor.

Volgens Arnold Claassen, komunikasiebeampte van die Rangers, was dit ’n moeilike wegwedstryd en moes sy span alles in die stryd werp om die appelboere tot ’n gelykop uitslag te dwing.

Rangers het drie drieë teenoor die een van die tuisspan gedruk. Donnay Makonie (heelagter), Eric Campher (agtsteman) en Edwin Soman (senter) het die span se drieë gedruk. Davestine Esau (vleuel) het met twee doelskoppe geslaag.

Vir Rangers het Makonie, Ben Gertse (vleuel) en Soman agterlangs uitgeblink en Peet Samson (slot) en Dawid Coerecius (stut) voorlangs.

• Rangers B het in ’n vriendskaplike wedstryd  met 14-15 teen Swings se naasbestes verloor.
Jason Jantjies (losskakel) het ’n drie vir Rangers gedruk wat hy self verdoel het terwyl ’n strafdrie ook aan die span toegeken is.

• Die klub speel Saterdag op sy tuisveld ’n belangrike wedstryd teen die enigste ander onoorwonne span in die liga, naamlik Adias van Volmoed. Daar sal ook ’n wedstryd tussen oud-spelers van Rangers wees asook skolerugby.

Log in with your credentials

Forgot your details?