SA Padfietskampioenskap kom Oudtshoorn toe

Deur Higgo Jacobs
DIE SA Padfiets- en Tydtoetskampioenskap vind oor net meer as twee maande hier op Oudtshoorn plaas. Dit is een van die grootste sportbyeenkomste nog wat op Oudtshoorn aangebied word.
Die kampioenskap, waar van ons land se beste fietsryers in aksie sal wees, vind van Maandag tot Sondag, 5 tot 11 Februarie, plaas.

Corné Bence, president van Eden Fietsry, sê sowat 1000 deelnemers word verwag. ’n Verdere sowat 4000 mense word verwag, wat beamptes, familielede, belangstellendes en besoekers insluit.
Deelnemers van elfjariges tot tagtigjariges gaan na verwagting deelneem, sê hy.

“Oudtshoorn het dié kampioenskap ook in 2009 en 2013 aangebied. Ons beskik oor die ervaring om sulke groot byeenkomste suksesvol te organi-seer. Oudtshoorn is beslis besig om die sportmekka van die Wes-Kaap te word,” het Bence gesê.

Alle roetes begin en eindig by die SWD Krieketterrein (Rec) in Voortrekkerweg.
Daar is verskillende afstande vir die verskillende ouderdomsgroepe, naamlik 14,6km, 52,8km, 61,0km, 86,8km, 99,8km, 120,8km en 154,8km.

Deelnemers aan die tydtoetse (14,6km) spring by die Rec weg en ry op die Mosselbaaipad tot by die Safari Volstruisplaas en terug.

Registrasie kan by die krieketstadion gedoen word van Maandag, 5 Februarie, tussen 14:00 en 17:00, en weer van Dinsdag tot Saterdag, 6 tot 10 Februarie, tussen 06:00 en 17:00.

Alle deelnemers behalwe o.11 tot o.17 moet ’n wedrenlisensie hê wat deur SA Fietsry uitgereik is. Deelenemers het in elke kategorie die kans om as SA Kampioen gekroon te word.

Die groot getal besoekers wat verwag word, sal ’n welkome finansiële inspuiting vir die gasvry­heidsbedryf meebring in taai ekonomiese tye.

Besoek gerus www.edencycling.co.za vir meer inligting.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?