Reuse-oorwinning!

DIE o.15-krieketspan van Langenhoven Gimnasium het Saterdag op die Gimmies se velde die Hoërskool Sentraal van Beaufort-Wes in ’n SWD Superskoleligawedstryd met ’n allemintige 441 lopies verslaan.

Gimmies het eerste gekolf en ’n rekordtelling van 521 lopies in die toegelate 50 boulbeurte op die telbord geplaas. Gimmies se topkolwers was Jaco Victor, wat 187 lopies gemoker het, en Dawid Smuts, wat 149 lopies, nie uit nie, geslaan het.

Daarna het Gimmies net 16 boulbeurte nodig gehad om die span van Sentraal vir ’n skamele 80 lopies uit te knikker. Antonio Bruiners het vier paaltjies laat kantel en Denzil Masete en Victor drie paaltjies elk.

• Die Gimmies se o.19-krieketspan het Saterdag vir York High School op dié se tuisveld met 6 paaltjies geklop. York, wat eerste gekolf het, was almal uit vir 162 lopies. Jean Bruiners en Julian Jacobs het elk 4 paaltjies platgetrek.

Hierna het Gimmies die wentelling (164) verby­gesteek met nog 6 paaltjies staande. Bruiners was Gimmies se beste kolwer met 64 nie uit nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?