Rangers steeds onoorwonne

Deur Garnett Wicomb
DIE eerste rugbyspan van Dysselsdorp Rangers het Saterdag in die SWD Karoostreekliga die span van Korrektiewe Dienste op Oudtshoorn met 32-24 geklop om sy onoorwonne status te behou.

Korrektiewe Dienste, wat van die afskop met ’n geweldige aanslag vorendag gekom het, het rustyd met 14-8 voorgeloop. Rangers het in die tweede helfte egter na ’n hoër rat oorgeskakel om eindelik vyf drieë te druk vir ’n bonuspuntoorwinning.
Albei spanne verdien lof vir die klipharde, maar tog gedissiplineerde spel wat opgedis is.

Vir Rangers het Caserino (Ryno) Lewis, vleuel, twee drieë gedruk en Patrick Jaftha, vleuel, Donnie Makonie, losskakel, en Davestine Esau, heelagter, een elk. Esau het ook met ’n strafdoel en ’n doelskop geslaag, en Jaftha met ’n doelskop.

Rangers se grootste uitblinkers was Caserino Lewis en Shawandré (Pannas) Lewis, skrumskakel. ’n Blink toekoms word vir dié twee 19-jariges voorspel. Esau het ook puik gespeel en sy puntetotaal vir die seisoen tot 69 opgeskuif.

Beandré Botha (21), slot/flank, het uitgestaan in die lynstane.

• Rangers B het vir Korrektiewe Dienste B met 10-8 geklop en is ook steeds onoorwonne.
Vir die wenspan het Elton Koopman (vleuel) ’n drie gedruk. Ben Gertse (losskakel) het verdoel en ook ’n strafdoel aangeteken.
Rangers reis die naweek na Haarlem.

Log in with your credentials

Forgot your details?