Plaaslike langasems maak stem dik

Ettiene Plaatjies draf ’n opdraand kaf tydens vanjaar se Dryland Traverse. Op die inlas is Francois Maquassa.

TWEE langasems van Oudtshoorn, Ettiene Plaatjies en John April, het Sondag ná vier dae se hardloop oor altesame 73 km oor berge en in dale die spanafdeling van die Rhodes Dryland Traverse-veldwedloop gewen in ’n tyd van 05:49:04. Hulle was algeheel tweede.

Nog ’n atleet van Oudtshoorn, Francois Maquassa, en sy spanmaat Anderson Ncube was tweede in die spanafdeling en algeheel derde. Hul tyd was 06:08:04.

Die vier skofte van die gewilde veldwedloop sluit ’n draai deur die Kango Grotte, gedeeltes van die Swartbergpas en die kruinroete bo-op die Swartberge en die De Kombuysgebied in. Al die skofte eindig by die De Hoek­vakansieoord. Altesame 370 langasem-avonturiers van wyd en syd het aan die Dryland Traverse deelgeneem.

Die wenner van die mansolo-afdeling asook die algehele wenner was Robert Rorich (22), een van Suid-Afrika se voorste veldwedlopers (trail runners). Sy tyd was 05:34:05.

Rorich het onlangs ’n nuwe SA rekord by die Otter African Trail Run opgestel.

Rorich het ná die Traverse gesê die byeenkoms het ’n unieke “vibe” waarvan hy baie hou.

Die vrouesolo-afdeling is deur Jo Mackenzie in ’n tyd van 07:39:36 gewen.

Nog atlete van Oudtshoorn wat die Dryland Traverse voltooi het, is Bert Verlinde, wat sesde in die solomansafdeling was, Ilse Jordan, Sarie de Wet, Mona-Mare Griffioen, Ina Maree, Johnel Van Der Westhuizen, Liesl Jonker, Zani Smith, Louisa-Ann Ungerer, Chanel Rood, David Mckinnon, Johan van der Westhuizen, Hein Jonker, Francois Genis, Alvaro De Nobrega, Louis Oosthuizen, Josephine Oosthuizen, Hennie Miles, Madeleine Miles, Sandra Lombard, Riaan Muller, Chris-Mare Schoeman, Mari-Lu Roller, Paula-Mari Roller, Matlakala Queen Mosenogi, Let-lhogonolo Joan Mona-kedi, Bonnie Boshoff, Marita Bouwer en Jacques Roller.

Log in with your credentials

Forgot your details?