Oudtshoorn terug op wenpad

Emile Lamprecht, kaptein van Oudtshoorn, duik sierlik oor vir ’n drie. Foto:Ebenezer Titus

Emile Lamprecht, kaptein van Oudtshoorn, duik sierlik oor vir ’n drie. Foto: Ebenezer Titus

DIE Oudtshoorn Rugbyklub se A-span het Saterdag in ’n SWD Karoostreekligawedstryd die Aspan van die Uniondale United met 31-22 geklop.

Oudtshoorn het goed vertoon nadat hulle die vorige naweek teen Prins Albert verloor het in ’n wedstryd wat op SuperSport gebeeldsend is.

In die eerste helfte van Saterdag se wedstryd het albei spanne opwindende hardlooprugby voor ’n geesdriftige skade opgedis.

Oudtshoorn het eerste punte aangeteken toe Clifton Claassen, heelagter, ’n strafdoel behaal het.

Uniondale het egter net daarna geantwoord met ’n drie onder die pale deur Micheal Ferrel, binnesenter.
Ryan Avontuur, losskakel, het verdoel.

Benjamin Beukes, Oudtshoorn se uithalerbinnesenter, het sy klub se ondersteuners op hul voete gehad toe hy met ’n vaartversnelling soos min om vier verdedigers van United gehardloop het vir ’n onverdoelde drie in die hoekie.

Kort daarna het Claassen weer ’n strafdoel behaal nadat United vir onkantspel gestraf is.

Met die wedstryd wat toe nog ’n wipplankaffêre was, het Elrico Wynand, flank van Uniondale, ’n puik solo-drie gedruk nadat hy Oudtshoorn se agterspelers aan die slaap gevang het. Die doelskop was mis.

Voor halftyd het Nathan Stoffels, flank, ’n onverdoelde drie vir Oudtshoorn gedruk om die telling 16-12 te maak.

In die tweede helfte het twee van United se spelers geelkaarte gekry vir ongeoorloofde spel.

In die tyd wat die twee af was, het Keith Marx, Oudtshoorn se vleuel, ’n drie gedruk en Emile Lamprecht, agtsteman en kaptein, twee drieë.

Claassen het misluk met dié drie doelskoppe.

Die laaste beweging van die wedstryd het tot ’n troosdrie vir Uniondale se buitesenter, Alexis Margo, gelei. Die doelskop was mis en die eindtelling 31-22.

Log in with your credentials

Forgot your details?