’n Pluimpie vir Eden Fietsry!

Colan Sylvester (links) en Corné Bence.

Colan Sylvester (links) en Corné Bence.

Deur Garnett Wicomb “DIT is ’n pluimpie in die hoed van Eden Fietsry en ’n groot hupstoot vir die ekonomie van Oudtshoorn dat die SA Padfiets- en Naelritkampioenskap van 6 tot 11 Februarie op die dorp aangebied word,” het burgemeester Colan Sylvester met die formele aankondiging van die byeenkoms gesê.

Die munisipaliteit en die Kango Grotte dra elk R15 000 by om die geleentheid moontlik te maak
en gaan ook help met infrastruktuur.

Sylvester het die Eden Fietsryvereniging geluk gewens en bygevoeg dat dit aansluit by ander nasionale
kampioenskappe wat volgende jaar op Oudtshoorn aangebied sal word soos die SA Trompoppie-
en die SA Swemkampioenskappe.

“As die grootste dorp in die Klein Karoo kry besoekers ook die geleentheid om die dorp te besigtig
en van die Top 10-toerismeattraksies in die wêreld, die Kango Grotte en die volstruisplase, te besoek,”
het hy gesê.

Volgens Lluwellyn Coetzee, senior bestuurder: strategiese dienste van die munisipaliteit, sal die
byeenkoms na skatting die dorp se ekonomie ’n hupstoot van tussen R10miljoen en R15miljoen
gee danksy sowat 5 000 mense wat na die dorp gelok word.

Volgens Corné Bence, president van Eden Fietsry sowel as die Wes-Kaapse Fietsryvereniging,
is die kampioenskap aan Oudtshoorn toegeken vanweë die vereniging se prestasies en organisatoriese
vermoë.

Die kampioenskap word volgens Bence deur SA Fietsry aan ’n provinsie toegeken wat op sy beurt
’n federasie kies om dit aan te bied. “Al die wedrenne sal in Voortrekkerweg begin en eindig om
die totale gemeenskap te betrek,” het hy gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?