Meer as 400 by gala!

Aksie tydens die Freda Barnard Uitnodigingsgala wat meer as 400 swemmers gelok het.

Deur Higgo Jacobs
MEER as 400 swemmers, beamptes en besoekers van 25 swemklubs van die Wes- en Oos-Kaap het van Vrydag tot Sondag (2 tot 4 November) op Oudtshoorn toegesak vir die 37ste Freda Barnard Uitnodigingswemgala in die NA Smit Swembad.

Sewe swemmers van die Freda Barnard Swemskool op Oudtshoorn het onder die vaandel van Fish Eagles Aquatics aan die gala deelgeneem en verskeie kere op die wenpodium verskyn.

Volgens Delia van Biljon, afrigter van die Freda Barnard Swemskool, het al die swemmers van Oudtshoorn hul tye sedert hul laaste swembyeenkoms met tussen 2 en 11 sekondes verbeter.

Die grootste uitblinker onder die deelnemers van Oudtshoorn was die 12-jarige Jada Coetzee wat aan vyftien items deelgeneem het en tien goue, drie silwer en twee brons medaljes gewen het. Sy is ook opgeneem in die Wes-Kaapse skolespan wat in Desember in Johannesburg aan die SA Skole-swemkampioenskap gaan deelneem.

Die ander deelnemers van Oudtshoorn was Anlizé Vermeulen, Jancke Potgieter, Christiaan van Biljon, Cari Griffioen, Ninke Griffioen en Kenzi Barnard.

Volgens die sekretaresse van die Fish Eagles Aquatics, Tarita Pollicute, het die byeenkoms seepglad verloop ondanks die rook wat die naweek oor Oudtshoorn gehang het.

Selfs toe die krag laat Sondagmiddag op Oudts-hoorn onderbreek is, het die gala danksy kragopwekkers voortgegaan.

Log in with your credentials

Forgot your details?