Julies is Sportman van die Jaar

Die spelers van die Bridgton Rugbyklub wat vereer is vir hul bydraes die afgelope seisoen is voor van links Wesley le Roux (A-span: Beste Voorspeler), Charlston Ewerts (Drie van die Jaar), Wayne Julies (Sportman van die Jaar), Dean January (A-span: Beste Speler en Spelers se Speler van die Jaar), Sydney Lucas ­(C-span: Beste Agterspeler), Keenan Esau (A-span: Beste Agterspeler en Meeste Ont-wikkel) en Thiron ­Stoffels (B-span: Beste Agterspeler), en agter van links Llyle Mthembo (B-span: Beste Speler en Junior Sportman van die Jaar), Romano Ewerts (B-span: Beste Voorspe­ler en Mees Toegewyde Spe­ler) en Bradwin Wanies (Mees­te Drieë).
Onder: Hennie Baartman (links), president van SWD Rugby, met die woelwater flank, Wayne Julies, wat vanjaar as die Bridgton Rugbyklub se Sportman van die Jaar aangewys is. Foto’s: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
BRIDGTON Rugbyklub het Saterdag-aand in die Protea Volksentrum sy spelers erkenning ge­gee vir hul bydrae in 2018. Ondanks ’n swak begin in die SWD Premierliga het die A-span nogtans vierde in die liga geëindig.

Benito Mthembo, voorsitter van die klub, het by die prysuitdeling gesê hy is baie trots op wat die A-span vanjaar vermag het ondanks verskeie interne pro­bleme wat die klub ondervind het.

“Daar is heelwat positiewes wat die spelers uit vanjaar se seisoen kan neem, en dit is dat ons die enigste span in die SWD-liga is wat daarin kon slaag om sewe agtereenvolgende wedstryde te wen. Ons is ook die enigste span wat Heidelberg op hul berugte tuisveld Never Lose Park kon ore aansit,” het hy gesê.

Twee van Bridgton se A-span spelers, Ganfried May (vleuel) en JP Duvenage (senter), is vanjaar in die SWD-senior-span opgeneem wat getuig van die puik talent waaroor die klub beskik, het Mthembo gesê.

Hennie Baartman, president van SWD Rugby, het in sy toespraak verwys na die onsmaaklike voorval op 21 Julie waartydens Bridgton-onder­steuners ná ’n wedstryd op Heidelberg teen die dorp se klub aangerand is en voertuie beskadig is.

“Dit was ’n donker dag in rugby,” het hy gesê.

Bridgton het dié wedstryd met 26-25 gewen.

Heidelberg Rugbyklub is ná ’n tugverhoor deur SWD Rugby voorwaardelik geskors tot die 2020-seisoen en is ook met R1000 beboet.

“Iets van daardie dag wat my egter sal bybly, is dat Bridgton Rugbyklub voorwaar kan saamstaan wanneer een van ons ondersteuners of lede bedreig word, en daarvoor verdien die klub groot lof.”

Hy het die klub aangemoedig om sy soms negatiewe, bakleierige energie liefs op ’n positiewe wyse te kanaliseer om sodoende weer glorie na die klub te bring. “Binnegevegte is ’n kanker wat ons klub op die lange duur skade kan berokken. ­­

“Die beste sal wees dat ons weer terugkeer na ons waardes en motivering vir hoekom ons die klub in 1992 gestig het. Dit is om Oudtshoorn se gemeenskap trots te maak deur week ná week puik spel te lewer,” het Baartman gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?