Groot sportopwinding!

Deur Higgo Jacobs
DAAR is Saterdag groot sportopwinding op ­Oudtshoorn met die Klein Karoostraatmyl en fietsry wat in Baron van Reedestraat vanaf Kleinplaas Vakansieoord tot voor die CP Nel Museum op Oudtshoorn plaasvind.

Dié straatmyl is die eerste been van die Bestmed Edenstraatmylreeks. Die tweede been vind Maandag (18 Des) op die NMU George Kampus plaas en die derde been Woensdag (20 Des) by die ATKV-terrein in Hartenbos. Die totale prysgeld vir die reeks is R95000 wat ’n groot aansporing vir die atlete behoort te wees. In die afgelope drie jaar is nie minder nie as vyf droommyle (minder as 4 minute) in die reeks gehardloop.

Die bekende 400 m-hekkiesatleet, LJ van Zyl, is die Bestmed-ambassadeur van die reeks. Hy is ook lid van die reëlingskomitee en dien as skakel tussen die atlete en die organiseerders.

Van die topmansatlete wat kom deelneem, is Amos Nyonga, Sibusiso Magwaza, Ruan Meintjies, Jerry Motsau, George Kuche, Daniel Sehole, Nkosinathi Sibiya, Reynard van Rensburg en Ruben Ramalefi. Die top vroue-atlete is Anuscha Nice en Simonay Wietsz.

Van die atletiekklubs en akademies wat spanne gaan stuur, is Elana Meyer se Edurocad, Kovsies, Maties, UWK en NWU.

Die Vrystaatse Universiteit borg vanjaar weer die Grand Prix-deel van die reeks. Die mans- en vroue-atleet wat die meeste punte oor die drie bene verwerf, stap met ’n groot prys weg.

• Corné Bence, voorsitter van Eden en Weskaap Fietsry, sê van Suid-Afrika se top fietsryers wat gaan deelneem, is die Protea-ryers Alex Parsons, Louis Visser, Evan Carstens, Nolin Hoffman, Philo Verlaat, Marshall Hendriks, Arnold de Leeu, Jessica Gerber en Ashley Parsons. Jong opkomende fietsryers sluit in Keerigan Arries, Berninio Hans, Merneal Essau en Rico Bence. Ontwikkelings-atlete van Weskus, Kaapse Wynlande en Eden het ook reeds deelname bevestig.

Dr Jacques van Staden en Quinton Myburgh (Cycle4Diabetes) en JP Gerber van Coimbra Cycles gaan ook deelneem. Die Acendis-span gaan ook deelneem!

• Registrasie vind Saterdag om 07:00 by Kleinplaas plaas. Die fietsryers spring om 09:00 naby Kleinplaas weg. Die atlete kom 10: 00 aan die beurt. Al die aksie eindig in Baron van Reedestraat voor die CP Nel Museum. Die pryse word om 12:00 voor die Karoopot oorhandig.

Oudtshoorniete moet seker maak hulle mis nie al hierdie opwinding en aksie nie.
Besoek gerus www.edenmiles.com vir meer inligting oor al die afdelings vir die onderskeie ou-derdomsgroepe, die roetes asook die volledige program van die straatmylreeks.

Log in with your credentials

Forgot your details?