Europese wen vir Erik van Rooyen

Erik van Rooyen hou die European Tour-beker omhoog. Foto verskaf.

Erik van Rooyen hou die European Tour-beker omhoog. Foto verskaf.

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE 27-jarige Erik van Rooyen, ’n oud-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn, het Sondag die Hainan Ope in China gewen en daarmee sy Europese toerstatus vier 2018 verseker.

“Om aan vanjaar se Challenge Tour te kon deelneem was ’n belang­rike stap in my ontwikkeling as ’n gholfspeler,” sê Van Rooyen.

“Ek dink dit is belangrik om as mens, en natuurlik in die geval ’n gholfspeler, buite jou comfort zone te beweeg, want dit is juis daar wat ’n mens die meeste groei en ontwikkel, en jouself leer ken.”
Hy vertel dat hy nooit tydens die ­toernooi gedink het dat hy dit nie sal maak nie. “Die oomblik wat jy dink jy kan dit nie maak nie, moet jy maar vir jou iets anders kry om te doen. Daar is nie ruimte vir negatiwiteit nie.

“Daar is baie druk en spanning, maar ek weet nog altyd dat ek die ta­lent en wilskrag het om sukses te behaal. In gholf is daar baie dinge buite jou beheer.

“Jy kan nie beheer hoe jou teenstander gaan speel of hoe die weers-omstandighede gaan wees nie. Al wat jy kan beheer, is jou eie denke en hoe jy die baan aanpak.”

Hy sê toe hy ’n voëltjie op die 17de putjie geslaan het, het hy die eerste keer gedink dat hy die toernooi in die sakkie het.

“Ek het in daai stadium met drie houe voorgeloop met een putjie om te speel. Dit was dus onwaarskynlik dat ek die toernooi sou verloor.”

Van Rooyen sê hy het die afgelope ses maande net 10 dae in sy eie bed in Suid-Afrika geslaap.

“Die res van die tyd was ek in Europa besig om van toernooi na toer­nooi te reis en die droom te jaag. Dit was ongelooflik om elke week in ’n ander land te kon wees en so bie­tjie van die verskillende kulture te kon ervaar. Dit was ook ’n leerskool om elke week in ander weersomstan­dig­hede mee te ding.
“Dit is onder hier­die omstandighede wat ek ont­wikkel het in ’n beter gholfspeler; een wat volgende seisoen op die hoogste vlak gaan meeding.”

Hy sê die werk wat hy saam met sy sportsielkundige, Maretha Claasen, die laaste twee jaar doen, het bygedra tot sy sukses.

“Daar is bitter min mense wat verstaan wat dit verg om op die hoogste vlak mee te ding. Dit wat agter die skerms gebeur, die opoffe­rings en die ure wat aan geestelike voorbereiding bestee word, word meeste van die tyd misgekyk.”

Van Rooyen se ouers het na Oudts­hoorn verhuis toe hy 13 jaar oud was. Sy liefde vir gholf het vanaf ’n jong ouderdom ontwikkel.

Van Rooyen vertel hy het tydens sy hele hoërskoolloopbaan by die Strui-sies minstens drie keer ’n week George toe gery het om by Fancourt te gaan gholf oefen.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?