Eden-toekennings

Deur Higgo Jacobs
Eden Sportraad se sporttoekennings vir 2018 vind vanjaar op Vrydagaand, 27 Julie, op Oudtshoorn plaas.

Uitnodigings word reeds Maandag (14 Mei) na sportfederasies, munisipale sportrade en skole gestuur om hulle voldoende tyd te gee om kandidate te benoem.

Volgens Dave van der Walt van die Sportraad is daar in die verlede heelwat belangstelling van die publiek ontvang, maar alle benoemings moet deur een van die genoemde instansies gekanaliseer word. Alle rolspelers word dus vriendelik versoek om, sodra hulle die benoemingsvorms ontvang, dit te voltooi en aan Van der Walt, Dirk van der Westhuizen of Rudi Claassen, voorsitter van die reëlingskomitee te stuur. Die sluitingsdatum vir benoemings is 22 Junie 2018.

Sportfederasies word genooi om hulle topsportpersone, afrigters en administrateurs te benoem. Daar is 32 kategorieë waarin meegeding kan word. Verlede jaar is 160 benoemings ontvang.

Alle federasies wat befondsing van die Departement van Kultuursake en Sport ontvang het, moet ingevolge die ooreenkoms persone benoem.

Benoemingsvorms kan ook per e-pos verkry word van Dave van der Walt (sekretaris). Sy e-posadres is sportcouncil.eden@gmail.com.

Sportprestasies van tussen 1 September 2017 en 22 Junie 2018 word in ag geneem. Die wenners van die kategorië wat ooreenstem met dié van die Wes-Kaap, dring deur na die Wes-Kaapse Sporttoekennings wat later vanjaar plaasvind.

Log in with your credentials

Forgot your details?