Dis Oudtshoorn teen Adias

Jaco Marx, kaptein en agtsteman, van die Oudtshoorn Rugbyklub duik Saterdag oor vir ’n drie.  Foto: Wyndham Ewerts

Jaco Marx, kaptein en agtsteman, van die Oudtshoorn Rugbyklub duik Saterdag oor vir ’n drie. Foto: Wyndham Ewerts

Fernando Arendse, skrumskakel, wat Saterdag twee drieë vir Oudtshoorn gedruk het.   Foto: Wyndham Ewerts

Fernando Arendse, skrumskakel, wat Saterdag twee drieë vir Oudtshoorn gedruk het.
Foto: Wyndham Ewerts

Nathan Stoffels, Oudtshoorn se flank, breek met die bal.  Foto: Ebenezer Titus

Nathan Stoffels, Oudtshoorn se flank, breek met die bal. Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE eerste span van die Oudtshoorn Rugbyklub speel Saterdag om 15:30 op die Bridgton Sportgronde (Plate) in die eindstryd van die Karoostreekliga teen Adias van Volmoed.

Oudtshoorn het die afgelope Saterdag sy plek in die eindstryd verseker deur op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) vir Haarlem Swings gemaklik met 24-3 te verslaan.

Adias A het Saterdag op die Plate vir Calitzdorp met 15-13 geklop.

Die span wat die eindstryd wen, sal in 2018 in die SWD Presidentsliga meeding. Oudtshoorn en Adias het vanjaar al twee keer teen mekaar gespeel, en elkeen een keer gewen.

Nadat die wedstryd aanvanklik gesukkel het om momentum te kry, het Oudtshoorn se sterk slot, Ruan Tolken, in die 15de minuut sterk gebreek om die wedstryd se eerste drie te druk. Sy broer, Anru Tolken, wat losskakel speel, het die drie verdoel.

Hoewel Haarlem Swings daarna aangeval het, het hul agterlynbewe­gings telkens skipbreuk gely weens onnodige aanslane.

Oudtshoorn het die bykomende balbesit weens hul teenstanders se foute benut om ook die volgende punte aan te teken met ’n onverdoelde drie deur Fernando Arendse.

Ná die rustyd het die woelige Arendse sy stem weer dik gemaak en sierlik oorgeduik vir sy tweede drie, nadat hy die verdedigers met ’n fopaangee geflous het. Met die doelskop mis was die telling nou 17-0.
Haarlem het hierna vir Oudtshoorn ’n tyd lank in hul kwartgebied vasgepen, maar die tuisspan se verdediging het gehou. Dit het egter aan Haarlem se losskakel, Ceylin Fortuin, die kans gegee om sy span se enigste punte met ’n skepdoel aan te teken.

Die laaste punte van die wedstryd was ’n drie deur Oudtshoorn se kaptein en agtsteman, Jaco Marx, wat gaan druk het ná ’n kraglopie deur Ruan Tolken. Christo Beneke, Oudtshoorn se senter het verdoel om die eindtelling op 24-3 te staan te bring.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?