Deur grotte, oor berge en deur dale

• Dryland Traverse-veldloop begin

DIE Dryland Traverse Multiskof-veldwedloop begin laatmiddag (Donderdag) om 16:30 met ’n proloog waarvan die eerste gedeelte deur die wêreldbekende Kango Grotte lei. Die proloog eindig by De Hoekberg­oord aan die voet van die Swartberge.

Benewens die proloog het die Dryland Traverse drie skofte op onderskeidelik Vrydag, Saterdag en Sondag. Benewens die Kango Grotte kry deelnemers gedurende die veldwedloop ook die geleentheid om deur die skilderagtige omgewing van die Swartberge te hardloop.

Die proloog is 8 km lank en klim 480 meter. Vanaf die Kango Grotte lei die proloogroete met ou voetpaadjies deur aangrendsende plase na De Hoek wat as basis vir die Traverse dien en waar die deelnemers oornag.

Môre (Vrydag) se skof 1, wat die uitdagendste skof is, begin 07:30 by De Hoek en eindig by Kobus se Gat. Die roete is 33,1km lank en klim 1480 meter. Van De Hoek hardloop die deelnemers met ’n bergklimroete tot by Bothashoek, ’n oornaghut vir bergklimmers bo-op die Swartberge, waar daar ’n waterpunt is. Vandaar volg hulle die 4X4-kruinroete tot by die Swartbergpas en van daar teen die pas af tot by die eindpunt by Kobus se Gat aan die onderkant van die pas.

Skof 2 begin Saterdag om 07:30 by die Rust-en-Vredewaterval. Die roete, wat 23 km lank is en 890meter klim, lei met die suid-oostelike hange van die Swartberge langs oor die Raubenheimerdam se wal en deur onder meer afgeleë plaasgrond van De Kombuys voordat dit weer by De Hoek eindig.
Skof 3, wat 11 km lank is en 450 meter klim, begin en eindig by De Hoek.

• Die Dryland Traverse nie net bekend as veldloop nie, maar ook as gesellige byeenkoms waar die deelnemers lekker en gesonde etes kry en saans lekker saam kuier.

Oudtshoorn se langasems wat gaan deelneem, is Mari-Lu Roller, Liesl Jon-ker, Mona-Mare Griffioen, Teresa Bester, Louisa-Ann Ungerer, Jacques Roller, Hein Jonker, Francois Genis, Bert Verlinde, Kobus Barnard, Cornelia Burger, Benita Olivier, Newald Groenewald, Gershwill Jacobs, Ettiene Plaatjies, John April en Francois Maquassa.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?