Collegians maak stem dik!

Collegians Rugbyklub se seëvierende eerste span wat Vrydagaand met Willing Hearts van Prins Albert afgereken het. Dit was die eerste keer vanjaar dat Willing Hearts, wat voorloop op die punteleer van die SWD Presidentsliga: Karoostreek, ’n wedstryd verloor het. Foto: Wyndham Ewerts

Collegians Rugbyklub se seëvierende eerste span wat Vrydagaand met Willing Hearts van Prins Albert afgereken het. Dit was die eerste keer vanjaar dat Willing Hearts, wat voorloop op die punteleer van die SWD Presidentsliga: Karoostreek, ’n wedstryd verloor het. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
’N BEGEESTERDE eerstespan van Collegians het Vrydagaand sy stem behoorlik dik gemaak deur Willing Hearts van Prins Albert, voorloper op die punteleer van die SWD Presidentsliga: Karoostreek, sy eerste loesing van die jaar toe te dien.

Collegians, wat derde op die punteleer is, het die wedstryd, wat op die Bridgton Sportgronde gespeel is, met 12-7 gewen.

Ondanks die koue wintersweer het albei spanne se ondersteu­ners die wedstryd goed bygewoon en was daar deurentyd ’n feestelike stemming.

Willing Hearts se regtervleuel, Heinrich Nel, het die eerste drie van die wedstryd in die 13de minuut gedruk nadat sy spanmaats die bal by Collegians afgeneem het. Jaco Hendricks (heelagter) het die drie verdoel.

Collegians het egter daarna teruggeveg en stelselmatig die oorhand begin kry met sy woelige skrumskakel, Trompie Campher, aan die voorpunt. Collegians is laat in die eerste helfde met ’n drie beloon deur sy oopkantflank Micheal Tyali. Met die doelskop wat mis was, het die rustydtelling op 7-5 te staan gekom.

Collegians se voorspelers het in die tweede helfte beter as ’n eenheid begin saamspeel, en in die skrums hul teenstanders onder groot druk geplaas.

In die middel van die tweede helfte was dit nie ’n verrassing toe Tyali, wat ’n ware werkesel was, die spelers van Willing Hearts na lug laat gryp het en onder die pale gaan druk het. Die drie is deur Roberto Botha, heelagter, verdoel.

Willing Hearts het kort daarna ’n gulde geleentheid verbrou om punte aan te te-ken toe Hendricks (heelagter) ’n strafskop reg voor die pale mis geskop het.

Collegians het die res van die wedstryd koelkop gebly en Willing Hearts verhinder om enige verdere punte aan te teken.

Hoewel Collegians steeds derde op die puntelys is, het hulle met hul oorwinning hul posisie verstewig om na die uitspeelrondes deur te dring.

Willing Hearts behou hul plek bo-aan die punteleer.

Met sy twee drieë is Tyali as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Willing Hearts se B-span het vroeër die aand Collegians B oortuigend met 39-17 verslaan. Die rustyd telling was 22-5.

Collegians se volgende wedstryd is teen Uniondale op Uniondale.
• In nog ’n Karoostreekwedstryd het All Blacks se eerste rugbyspan Saterdag (17 Junie) die eerste span van Willowmore op die Oudtshoorn Sportgronde met 21-19 geklop, berig Ben du Preez.

Vir All Blacks het Ronaldo Jansen (senter) en Duwayne Januarie elk ’n drie gedruk. Januarie het ook drie strafskoppe en ’n doelskop deur die pale gejaag.

All Blacks se B-span het Willowmore se B-span met 17-8 geklop.
Vir All Blacks het Emile Dondas (senter), Juandre Murphy (vleuel) en Peter Smith (agsteman) elk ’n drie gedruk. Elvino Ewerts (losskakel) het een drie verdoel.

All Blacks speel Saterdag (24 Junie) op die Bridgton Sportgronde se C-veld teen Rangers van Dysselsdorp.

Die hekke open reeds om 12:00.

Log in with your credentials

Forgot your details?