BSS word krag in SWD-skolerugby

Walt Böhme (links), is die hoof van afrigting van BSS en Lorenzo van der Westhuizen is die afrigter van die skool se o.19A-span.  Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
DIE o.19A-rugbyspan van Bridgton Senior Sekon-dêr (BSS) op Oudtshoorn het vanjaar in die eerste seisoen wat hulle in die SWD-liga vir medium-grootte skole deelneem hul stem behoorlik dik gemaak.

Die span het vanjaar altesame dertien wedstryde gespeel teen skole soos die Hoërskool Tygerberg, Hoërskool Jim Fouche, Hoërskool De Kuilen, PW Botha Kollege en Langenhoven Gimnasium.

Die span is veral trots op sy oorwinninings oor HTS Bellville, die Hoërskool Oudtshoorn, PW Botha Kollege en George Sekondêre Skool.

Hulle het met 17-21 teen die Hoërskool Punt verloor en met 3-33 teen Langenhoven Gimnasium.

Hoërskole met vyf tot nege rugbyspanne ding in die liga vir medium-grootte skole mee. Slegs die Hoërskool Outeniqua en die Hoër Landbouskool Oakdale by Riversdale speel in die makro-afdeling van die liga.

Volgens Kelvin Ellis, skoolhoof van BSS, en Walt Böhme, hoof van rugbyafrigting by die skool, is die wenmotief nie vir die skool so belangrik nie, maar word leerders eerder aangemoedig om deel te neem en ervaring op te doen deur op ligavlak mee te ding.

Die skool het van o.15 tot o.19 vyf spanne wat in hul onderskeie ouderdomsgroepe meeding en maak van altesame vyftien afrigters gebruik.

Daar is ‘n opvoeder van die skool in beheer van elkeen van die vyf spanne, en afrigters van buite die skool word ook gebruik.
Lourenzo van der Westhuizen is die afrigter van die o.19-span en Wilmero Freeks is die spanbe­stuurder.

Volgens Böhme en Van der Westhuizen is daar baie telentvolle rugbyspelers by die skool.

“Ons sien uit na die nuwe rugbyseisoen en is oortuig daarvan dat BSS in 2019 nog sterker na vore gaan tree as ’n krag in skolerugby in die SWD,” het Böhme gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?