Bridgton verloor in doodsnikke

Anver Venter (13) op pad doellyn toe vir Bridgton se eerste drie.  Foto: Wyndham Ewerts

Anver Venter (13) op pad doellyn toe vir Bridgton se eerste drie. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
DIE Bridgton Rugbyklub se A-span het Saterdag sy SWD Premierliga-wedstryd op die Rec teen Barbarians van Mosselbaai in die doodsnikke met 13-12 verloor.

Bridgton het in die eerste helfte van dié taai wedstryd verskeie kanse om punte aan te teken weggegooi met onnodige aanslane terwyl hulle op die aanval was.

Die wedstryd se eerste punte was ’n drie deur Bridgton se buitesenter, Anver Venter, wat vlymskerp gebreek en onder die pale gaan druk het. Keenan Esau, losskakel, het verdoel. Net voor die einde van die eerste helfde het die binnesenter Rhupino

Plaatjies ook agter die doellyn gaan kuier vir ’n onverdoelde drie om die rustydtelling 12-0 te maak.

Die tuispan se ondersteuners het vroegtydig geesdriftig begin sing in afwagting op ’n  oorwinning.

In die tweede helfde het die Barbarians egter hul sokkies opgetrek, gereeld bresse in die Bridtgton se verdediging begin slaan en met goeie taktiese spel Bridgton in die se helfte begin vaspen.

Dit het gelei tot ’n drie deur José Pietersen, Barbarians se haastige vleuel, wat in die hoekie vir ’n welverdiende drie oorgeduik het.

Mcdillon Saayman, losskakel, wat die doelskop gemis het, het kort daarna ’n strafdoel behaal.

Met nuutgevonde selfvertroue het Barbarians die tuisspan onder yslike druk geplaas wat in die laaste minute van die wedstryd vrugte afgewerp het met Winston Seconds, Barbarians se vurige agsteman, wat deurgebars het vir ’n wendrie. Met die doelskop wat mis was, het Barbarians met ’n enkele punt gewen.

Ivor Kiewit, Barbarians se spanbestuurder,  was ná die wedstryd vol lof vir die karakter wat sy span getoon het om ’n agterstand van 12-0 uit te wis. Bridgton speel Saterdag, 2 Junie, op die Plate teen Evergreens.

• Bridgton B, wat Barbarians B met 31-8 gewen het, se drieë is deur  Lee-Marco Pietersen (vleuel), Llyle Metembo (buitesenter) en Adrian Booysen (binnesenter) gedruk. Gino van Vuuren (skrumskakel) was in kol met twee doelskoppe, twee strafdoele en een skepskop. Booysen het ook ’n skepskop behaal.

• Bridgton C se telling teen Barbarians was 3-3. Thiron Stoffels het vir Bridgton ’n strafdoel behaal.

Log in with your credentials

Forgot your details?