Bridgton loop weg met Blanco

Gavin Mooi, plaasvervangerloskopstut, wie se kragtige stormlopie tot ’n drie gelei het.

Gavin Mooi, plaasvervangerloskopstut, wie se kragtige stormlopie tot ’n drie gelei het.

Granfried May, senter, wat een van Bridgton se drieë gedruk het.

Granfried May, senter, wat een van Bridgton se drieë gedruk het. Foto’s: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE eerste span van die Bridgton Rugbyklub het Blanco van George Saterdag oortuigend met 50-17 verslaan in ’n SWD Premierligawestryd op die Bridgton Sportgronde.

Met hierdie oorwinning het Bridgton sy tweede plek op die Premierliga se punteleer behou en sy kanse op ’n tuis­halfeindstryd verstewig.

Bridgton se eerste punte was ’n drie in die vyfde minuut deur sy ervare buitesenter, Anver Venter, na ’n goeie agterlynbeweging. Sy poging pale toe was mis.

Blanco se heelagter, Allain Jansen, het net daarna ’n strafdoel behaal om die telling 5-3 te maak.
Hierna het Bridgton egter beheer geneem en is drieë deur Henry Meyer (vleuel) en Venter gedruk met Gino van Vuuren, losskakel, wat een van die drieë verdoel het.

Dit het die tuisspan al in die eerste kwart van die wedstryd reeks met 17-3 laat voorloop.
Net voor halftyd het Blanco goeie druk toegepas wat gelei het tot ’n drie deur Elton Olivier, vleuel. Allain Jansen, heelagter, het verdoel om die rustydtelling 17-10 te maak.

In die tweede helfde het Bridgton se haastige heelagter Bradwin Wanies twee drieë gedruk waarvan hy een self verdoel het. (29-10).

Blanco se flank Roland Makinga het sy span se laaste punte van die wedstryd aangeteken met ’n drie wat deur Jansen verdoel is (29-17).

Bridgton het hierna na nog ’n hoër rat oorgeskakel. Eers het Van Vuuren mooi gebreek en Ganfred May (senter) vir ’n drie onder die pale wegge­stuur. Van ­Vuuren het verdoel.

Die hoogtepunt van die wedstryd was egter toe Venter in sy eie doelgebied met die bal begin hardloop het wat gelei het tot ’n pragdrie deur Charlton Ewerts onder die pale. Van Vuuren het weer verdoel (43-17).

Cheslin September (vaskopstut) het in die doodsnikke van die wedstryd die laaste spyker in Blanco se doodskis geslaan met ’n drie wat gevolg het op ’n kragtige stormlopie deur Gavin Mooi (plaasvervangerstut). Van Vuuren het weer verdoel vir ’n eindtelling van 50-17.

• Bridgton B het Blanco met 50-7 gewen. Conroy Tiemie (senter) het drie van sy span se drieë gedruk. Die ander drieë is gedruk deur Kurt Rhode(14), Josef Saptou (12), Duzill Avontuur (11), Cobus Coetzee (3) en Ernest Manuel (flank). Lavano Nathan (10) het met vyf doelskoppe geslaag.
• Bridgton C het Blanco met 26-3 geklop. Drieë is gedruk deur Wilfred Ntalanganiso (6), Altheano Matolla (2), Roswin van Hansen (1) en Jacques Julies (10). Julies het met drie doelskoppe geslaag.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?