Waterpyplyn na De Rust hopelik operasioneel

DIE ergste waterkrisis op De Rust behoort reeds vandag onder beheer te wees, sê Kobus du Toit, assistent-stadsingenieur van Oudtshoorn. Water uit die Huisrivier sal hopelik vandag weer aan De Rust verskaf kan word.

Die munisipaliteit het vroeër die week in ’n persverklaring gesê dat stokkies en plantmateriaal as gevolg van die brand en ’n donderstorm die toe­voerpype verstop het. Boonop het die roet in al die damme en riviere in die gebied beland en was die water sommer gou pikswart met ’n roet-sediment wat bo-op gedryf het. As gevolg hiervan is die toe­voerpype vanuit die Huisrivier toegedraai totdat die watergehalte verbeter.

Die munisipaliteit moes ook die chlorinering-stelsel afskakel omdat dit oneffektief was met al die vaste stowwe in die water.

Volgens Du Toit is daar vandeesweek goed ge­vorder met die skoonmaak van die pypleiding van die munisipaliteit wat water aan De Rust lewer.

Hoewel die munisipaliteit intussen water uit ’n boer se dam aan De Rust gelewer het, was dié water nie geskik vir drinkdoeleindes nie en ook nie voldoende vir die inwoners van die dorp nie.

Raymond Wildschut, die raadslid vir De Rust, het gesê die dorp is die week in groot mate gered deur mense wat van heinde en verre begin drinkwater aanry het toe hulle van die waterskaarste verneem.

“Mense moet asseblief voortgaan met skenkings omdat dit onseker is wanneer die probleem heeltemal opgelos sal word.”

Volgens inwoners van De Rust was een van die grootste krisisse die afgelope week om water in die hande te kry om toilette te spoel. Verskeie gastehuise moes hul deure in stadiums sluit as gevolg van die gebrek aan water.

Niekie Eksteen van die Village Trading Post sê hulle het self ingespring en water aangery vir gebruik in die toilette by die restaurant, en vir was en kook. “Maar ons gaan aan en is positief,” het hy bygevoeg.

Gerhard Coetzee van die OK Value op De Rust het gesê hulle moes ook water aanry vir die besigheid, veral omdat hulle heelwat water in die slaghuis nodig het.

“Ons moes ons klere na wasserye in Oudtshoorn stuur omdat ons nie hier water het om mee te was nie.”

Jan Venter van Housemartin Guest Lodge sê die waterprobleem het die toeristebedryf seergemaak. “Seker so tagtig persent van mense het verkies om nie in die omstandighede De Rust toe te kom nie.”

Hy sê egter die waterskenkings van oral is iets wat wys mense gee nog om. “Dit gee my sommer ’n lekker gevoel in my hart.”

Hy vertel van mense wat van so ver as St Francis water na De Rust gebring het. Housemartin is een van die afsetpunte vir drinkwaterskenkings.

Basie Coetzee van die OK Value sê hy is ook baie dankbaar oor die groot skenkings van drinkwater in die dorp, onder meer 7 500 liter gebottelde water deur Shoprite Checkers Dinsdag.

“Ons ontvang water van oral. Dankie vir al die water wat mense uit die liefde van hul harte vir die gemeenskap geskenk het.”

Coetzee sê hy is ook dankbaar dat die brand geblus is voordat dit die dorp bereik het. “Ons hou Vrydag ’n biddag vir reën op die dorp.”

• Laai water vir De Rust af by Housemartin of die munisipale kantoor op De Rust of by Oudts­hoorn Toerisme op Oudtshoorn.

Log in with your credentials

Forgot your details?