‘Verseker kinders hulle het ondersteuning’

Kinders geboelie met sogenaamde ‘jintoe-lyste’

Deur Ilze-Mari Gründling
VULGêRE whatsapp-boodskappe wat soos ’n veldbrand deur hoërskole op Oudtshoorn versprei het, het baie kinders en ouers hewig ontstig.

Die boodskappe bevat sogenaamde “jintoe-lyste” met die name van kinders en kraak hulle daarin met vulgêre en kru taal af.

Die woord “jintoe” is Kaapse slang vir “los vrou” en word as ’n afbrekende naam gebruik.

Die ketting-boodskappe teiken kinders individueel.

Hierdie boeliegedrag op sosiale media het volgens Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), ook verlede jaar by skole in Mitchells Plein en Stellenbosch voorgekom.

’n Ma van ’n graad 8-leerder het aan Die Hoorn gesê haar dogter het ophou eet en teruggetrokke geraak. Toe sy een oggend weier om skool toe te gaan, het die ma besluit om met die onderhoof van die betrokke skool te gaan praat.

“Die skool was baie tegemoetkomend en het met die leerders gepraat oor wat aangaan. My dogter voel haar naam is geskend en ek kan sien dat – hoewel ek haar moed probeer inpraat het – sy steeds ongelukkig is,” sê die ouer. “Hulle moet die persoon vang wat daaragter sit, want dit rig soveel emosionele skade aan by die kinders. My kind het nou net met hoërskool begin – en dit is hoe die jaar afskop.”

Die Hoorn het met twee skoolhoofde oor die lyste gepraat.

Coenie de Vos, skoolhoof van die Hoërskool Oudtshoorn, sê die skool het die boodskappe met leerders bespreek. “Dinge is nou rustig. Ons het sommige kinders laat berading ontvang en die polisie het ook met die kinders kom praat.”

Volgens die skoolhoof van Bridgton Sekondêr, Kelvin Ellis, het die skool saam met Famsa gewerk om leerders te help. Hy het self ook met die leerders gepraat en volgens hom het die voorval ’n stille dood gesterf.

Salome Plaatjies, bestuurder van Plumbline Restoration – ’n beradingsorganisasie op Oudtshoorn, sê hulle doen inligting­sessies vir ouers om hulle by te staan om die situasie te hanteer.

“Ons wil ouers vra om hul kinders te verseker dat hulle hul ondersteuning het. Ons kinders is baie weerloos en gryp vinnig na selfdood. Ons moet dit voorkom en verstaan dat ­dié boodskappe die kinders seermaak en ons moet hulle ondersteun.”
Plaatjies sê kinders wat deur die lyste geraak is, moet verstaan dat dit nie hulle skuld is nie. “Jy weet wat is die waarheid. Jy het nie daarvoor gevra nie.”

Plaatjies het ook raad vir ouers. “Let op na jou kind se gedrag. Eet hy of sy genoeg? Het jou kind teruggetrokke ge­raak? Wil jou kind skool toe gaan? Voel jou kind siek of vra hy/sy vir pynpille of hoesstroop wat buitengewoon is? Is jou kind se kamer of die ouerhuis ’n plek van veiligheid vir hom of haar? Ouers moet aan al hierdie dinge aandag gee om sodoende vas te stel wat aangaan,” sê sy.

Merton het op sy beurt ouers van geaffekteerde leerders aangemoedig om die voorkoms van die lyste by hul naaste polisiekantoor aan te meld. Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudts­hoorn Polisie, het niemand op Oudts­hoorn ’n klag oor die lyste by die polisiekantoor afgelê het nie.

• Ouers en leerders kan die Safe Schools Call Centre by 0800 45 46 47 skakel vir raad en berading. Plumbline Restoration kan geskakel word by 071 959 5151.

Log in with your credentials

Forgot your details?