Van der Ross groet onderwys na 40 jaar

Jan van der Ross op sy laaste dag as skoolhoof in sy kantoor van die Hoërskool De Rust.                                            Foto: Higgo Jacobs

Jan van der Ross op sy laaste dag as skoolhoof in sy kantoor van die Hoërskool De Rust. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
EEN van De Rust se bekendste inwo­ners en onderwysleiers, Jan van der Ross, het einde Maart ná ’n loopbaan van 40 jaar uit die diens van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) getree.

Hy was die afgelope 14 jaar skoolhoof van die Hoërskool De Rust.

“Ek is ’n boorling van De Rust en my droom om in hierdie gemeenskap te werk het waar geword. Aan die einde van my onderwysloopbaan kan ek met dankbaarheid terugkyk en alle eer gee aan Hom wat my gedra en met goeie gesondheid deur al die jare geseën het,” het dié veteraan-onderwysman en oud-burgemeester van De Rust op sy laaste dag in die onderwys aan Die Hoorn gesê.

Van der Ross het aan die Onderwyskollege Suid-Kaap studeer en sy loopbaan in 1977 by EK Primêr Suur­braak buite Swellendam begin. In 1980 het hy geskuif na Seekoegat Primêr, tussen Klaarstroom en Beaufort-Wes. Van der Ross vertel met trots dat onderwysleiers soos Cliffie Frolick, latere hoofdirekteur van onderwys, en Eddie Snyman wat by die onderwys-hoofkantoor gewerk het, proef­onderwys by Seekoegat gedoen het voordat hul onderwysloopbane amptelik begin het.

Van der Ross is in 1996 aangestel as skoolhoof van De Rust Primêr. Hy het die skool van graad 8 na graad 9 uitgebrei om die leerders van die dorp langer op skool te hou.

In 2004 het hy die hoof geword van die nuutgestigte Hoërskool De Rust. In daardie stadium was die skoolgeboue van die eertydse hoër­skool vervalle en het die leerdertal tot minder as 100 leerders gekrimp.

Ná lang onderhandelinge is die graad 8, 9- en 10-leerders asook ’n aantal personeellede van die laerskool na die hoërskool oorgeplaas en die kurrikulum jaarliks uitgebrei sodat die skool in 2006 kon spog met die eerste graad 12-leerders.

“Vandag spog ons met meer as 500 graad 12-leerders wat reeds hul skool­loopbaan suksesvol hier voltooi het. Van hulle beklee onderwysposte op De Rust, Dysselsdorp en selfs op Oudtshoorn. Die skool het reeds twee rekenmeesters opgelewer en universiteite soos die Universiteit van die Vrystaat, Noordwes Universiteit en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit is gretig om ons leerders op te raap,” vertel ’n trotse Van der Ross.

Gedurende sy tydperk as skoolhoof is hy deur die WKOD vereer met die Nasionale Onderwystoekenning (NTA) vir Excellence in Secondary School Leadership. In hierdie kategorie het Van der Ross tweede in die onderwysdistrik Eden en Sentraal Karoo geëindig.

Hy sê streng, maar regverdige dissipline is deel van sy skool se wenresep. Die netheid van die skoolterrein, leerders en personeel is opvallend vir almal wat die skool besoek. Op ’n vraag hoe hy dit jaarliks regkry om so ’n klein personeelwisseling te hê en sy personeel tevrede te hou, antwoord hy met ’n aanhaling van Langenhoven: “Ploeg self op die klip­land en gee vir jou kneg die sagte grond, dan sal jy jou kneg behou en jou ploeg ook.”

Wat wil hierdie energieke skoolhoof – wat daarmee spog dat hy in 1995 die bekende Meiringspoort-wedloop (’n halfmarathon) in ’n goeie tyd voltooi het – ná sy aftrede doen?

“Ek is ’n gemeenskapsmens en dien tans in die skoolbeheerliggaam van De Rust Primêr waar ek ’n ouer is. Ek het ’n passie vir die onderwys en wil graag my ervaring met die gemeenskap deel,” antwoord hy.

• Die adjunkhoof van die Hoër­skool De Rust, Graham Herold, is as die nuwe skoolhoof aangestel en het reeds die leisels daar oorgeneem.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?