Storiefees op Oudtshoorn dié naweek

Nal’ibali kom Vrydag en Saterdag Oudtshoorn toe!

Nal’ibali kom Vrydag en Saterdag Oudtshoorn toe!

“DIE Lighuis het begin as ’n naskoolsentrum in Bridgton met die ondersteuning van die Oudtshoorn Vryburgers, maar vanjaar het ons selfs ’n groter droom vir die projek,” sê Liza de Beer, lid van die Lighuis se bestuurspan.

“Ons wil deur die Lighuis die geleent­heid skep vir Oudtshoorniete om saam te staan rondom ’n eenvoudige doelwit: Om Oudtshoorn se kinders en tieners ’n massiewe voordeel in die lewe te gee – ’n liefde vir lees.”

Die Lighuis se plan is nie om dit alleen te doen nie, maar om dit te doen met die hulp en ondersteuning van die nasionale ‘lees-vir-plesier’-program, Nal’ibali.
Nal’ibali, wat mense dalk sal herken van hul storieprogramme vir kinders op RSG, is gestig deur die Universiteit van Kaapstad om volwassenes te ondersteun om kinders te help om lief te wees vir lees.

“Ons wil graag die aktiwiteite van die Lighuis se Storie- en Dramaklub afskop met twee geleenthede wat ons saam met Nal’ibali gaan aanbied,” sê De Beer.

“Vrydag, 3 Maart, sal Nal’ibali in Oudtshoorn wees vir ’n bekendstellingdag.

“Ons beplan ’n storiefees vir kinders en ouers in die tuin van die Anglikaanse Kerk, St. Judes, in Baron van Reedestraat en Saterdag, 4 Maart, bied Nal’ibali ’n gratis inspirasie-werkswinkel in die Kerksaal van St. Judes aan. Gedurende die werkswinkel gaan ons leer wat kinders motiveer om te lees en watter aktiwiteite ons kan doen om kinders se taal- en leesvermoë te be­vorder. Die werkswinkel het plek vir 25 Oudts­hoorniete wat graag betrokke wil raak, laat ons dus weet as u dit wil bywoon!” nooi sy uit.

Enigiemand wat belang stel om die Nal’ibali-werkswinkel Saterdag (4 Maart) by te woon of as u betrokke wil raak by die werk van die Lighuis, skryf aan judymarie.smith@gmail.com of skakel 044 272 2098.

Log in with your credentials

Forgot your details?