Gimmies en Struisies gereed vir groot stryd!

Die sportkapteins van Langenhoven Gimnasium is van links Bennie Stemmet (rugby), Ilke van der Linde (netbal), Helette du Plessis (hokkie) en PW van Heerden (hokkie).  Foto: Higgo Jacobs

Die sportkapteins van Langenhoven Gimnasium is van links Bennie Stemmet (rugby), Ilke van der Linde (netbal), Helette du Plessis (hokkie) en PW van Heerden (hokkie). Foto: Higgo Jacobs

Struisies se sportkapteins vir die groot derby is van links Reinier Cornelissen (hokkie), Gitte Roller (netbal), Carla Swart (hokkie) en Thomas Jordan (rugby).    Foto: Higgo Jacobs

Struisies se sportkapteins vir die groot derby is van links Reinier Cornelissen (hokkie), Gitte Roller (netbal), Carla Swart (hokkie) en Thomas Jordan (rugby). Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
Die jaarlikse derby tussen Langenhoven Gimnasium en die Hoërskool Oudtshoorn se sportspanne begin reeds môremiddag  (Vrydag) wanneer die twee spogskole se netbalspanne op Gimmies se bane kragte meet.

Die rugby- en hokkiewedstryde begin Saterdagoggend.

Te oordeel aan die sportkapteins se boodskappe is die spelers slaggereed, en kan toeskouers uitsien na ’n  opwindende sport by Gimmies wat die gasheer vir die groot geleentheid is.

Bennie Stemmet, kaptein van Gimmies se eerste rugbyspan  sê: “Ons is slaggereed om teen Strui-sies te speel, en sien uit om in goeie gees kragte te meet.”

Volgens Helette du Plessis, meisiehokkiekaptein, is dit “altyd ’n lekker uitdaging om teen ons buurskool kragte te meet. Ons is goed voorbereid en sien baie uit na die wedstryd”.

Ilke van der Linde, netbalkaptein, sê ’n wed-stryd teen Struisies is altyd ’n hoogtepunt. “Ons is goed voorbereid en hoop die beste span wen.”

Die seunshokkiekaptein, PW van Heerden, sê sy span het hard gewerk en benader die wedstryd baie positief. “Dit is altyd lekker om teen ons buurskool kragte te meet.”

Stefanus Potgieter, skoolhoof van die Gimmies, spreek die hoop uit dat sportmanskap sal seëvier. “Gimmies teen Struisies is altyd ’n hoogtepunt op ons jaarlikse sportkalender. Gesonde mededinging en sportmanskap is altyd ’n kenmerk van dié dag.

“As gasheerskool wil ons almal nooi om die sportdag by te woon. Die netbal begin reeds Vrydagmiddag (môre) en Saterdag vind die hokkie en rugby plaas.

“Daar sal vanaf Vrydagmiddag heerlike kermisartikels te koop aangebied word.  Kom ondersteun asseblief die spelers en geniet albei dae by ons.

“Ons wens elke span sterkte toe, geniet julle spel en maak nuwe vriende.  Onthou: gee jou beste, hou by die reëls en speel om dit te geniet!” sê hy.

Thomas Jordan is die kaptein van die Struisies se eerste rugbyspan. Volgens hom het die span hard geoefen en sien hulle uit na ’n harde wedstryd teen Gimmies. “Die feit dat die wedstryd in Leeupark gespeel word,  skrik ons nie af nie. Ons speel enige plek en sal op ons beste wees,” verduidelik hy met groot selfvetroue.

Gitte Roller, netbal-kaptein, glo dit gaan ’n kop-aan-kop-wedstryd wees en daarom sien die spelers uit na strawwe mededinging.

Reinier Cornelissen, wat die seunshokkie-span aanvoer, glo die span wat sy kanse die beste benut en alles op die veld gee, is die span wat gaan wen.

Carla Swart, kaptein van die meisiehokkie-span, sien daarna uit om saam met haar spanmaats op die veld te draf.

“Die uitslag van die wedstryd gaan bepaal word deur ons ingesteldheid op die veld.

“Ons is reg vir julle,” is haar waarskuwing aan die Gimmies.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?