Doelwitte het hom gehelp, sê Viviers

Viviers Strauss.

Viviers Strauss.

HY het vir homself doelwitte gestel en glo dit is een van die redes waarom hy in die matriekeindeksamen presteer het, sê Langenhoven Gimnasium se hoofseun van 2016, Viviers Strauss.

Viviers het sewe onderskeidings behaal (wis­kunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekenaartoepassingstegnologie, ingenieursgrafika en ontwerp, Engels en lewensorientering) en spog met ’n gemiddeld van 89,4%.

“Ek sal sê my goeie uitslae is te danke aan die Hemelse Vader wat vir my die verstand gegee het, en aan harde werk en toewyding omdat ek vir myself doelwitte gestel het en geweet het ek wil dit bereik. Ek het hard gewerk om dit te laat realiseer en het altyd geweet wanneer dit tyd was om te kuier en wanneer dit tyd was om te leer.”

Viviers, die seun van Pieter en Esmarè Strauss van Schoemanshoek, gaan vanjaar Biomediese Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Pa Pieter is ’n versekeringsmakelaar en Ma Esmarè ’n onderwyser by Langenhoven Gimnasium.

Intussen droom en werk hy om eendag gelukkig te wees met sy lewe. “Ek wil suksesvol wees in my beroep en iets ontwerp wat ’n verskil in mense se lewens gaan maak. Dit is vir my belangrik om ’n verskil in ander se lewens te maak, al is dit hoe klein. En dit is vir my belangrik om op die ou end al my drome en doelwitte te bereik.

Hy sê sy matriekjaar was bedrywig omdat hy probeer het om aan soveel moontlik deel te neem, maar dat een van sy groot voorliefdes eintlik is om rustig op die plaas te wees en te ontspan. “Ek is ook baie lief vir watersport – van visvang tot surfing en wakerboarding.”

Viviers het op skool nie net as leier en op akademiese gebied uitgeblink nie. Hy het in sy skool se eerste spanne gespeel in hokkie, rugby, atletiek, gholf en sewesrugby en in verskeie sportsoorte die SWD verteenwoordig.

Viviers is ook deur Die Burger vir sy jeugleiers­konferensie gekeur aan die begin van sy matriekjaar dn was ’n top-20-finalis in The Herald Matric of the Year-kompetisie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?