Coenie de Vos groet die Struisies

Coenie de Vos, skoolhoof van die Hoërskool Oudtshoorn.  Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
DIE hoof van die Hoërskool Oudts­hoorn, Coenie de Vos, het na 30 jaar in die onderwys en vyf jaar as skoolhoof van die skool, besluit om te bedank en te gaan boer. Sy bedanking geld vanaf 31 Desember 2018.

De Vos was sedert 1 Oktober 2013 skoolhoof by die Hoërskool Oudtshoorn.

De Vos sê dit was sy ideaal om die Hoërskool Oudtshoorn te transformeer in ’n volkome eLearning-skool waar elke leerder sy eie tablet het en waar handboeke uitgeskakel word. Volgens hom het die skool se personeel reeds by die privaatskool Glenwood House in George gaan kyk hoe dit gedoen word, maar dat dit vanweë finansiële redes nog nie haalbaar vir die Struisies is nie.

“Vanweë die demografie van ons leerdersamestelling is daar te veel ouers wat nie tablette vir hul kinders kan bekostig nie, en die skool is ook nie finansieel in staat om dit te subsidieer nie,” verduidelik hy.

De Vos is trots daarop dat die skool steeds akademies uitstekend presteer, gemeet aan die matriek­uitslae en ook die prestasies van leerders wat aan verskeie olim­piades deelneem.

“Op sportgebied staan die skool sy man en laat ons ons nie onderkry deur groter skole met veel meer spe­lers in die veld nie.

Ons spelers presteer in die meeste gevalle ver bo hulle vermoë en dit maak die skool trots,” is sy kommentaar op die skool se sportprestasies.

Vir die nabye toekoms sien De Vos homself op ’n stukkie grond in die George-omgewing, waar hy tussen sy beeste kan rondstap en die vryheid van die natuur kan geniet. Hy sê hy het in die verlede deeltyds geboer en sal dit graag weer wil doen.

“My vrou, Elma, is verbonde aan die Hoërskool Outeniqua op George waar sy Fisiese Weten­skap­pe onderrig. Sy dien op die paneel verantwoordelik vir die opstel van die chemievraestel vir die nasionale senior sertifikaat-eksamen en sy is van plan om nog voort te gaan met haar onderwysloopbaan,” het hy aan Die Hoorn gesê.

Die vakature vir die skoolhoofpos van die Hoërskool Oudtshoorn sal in die eerste vakaturelys van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement van 2019 geadverteer word en die benoemingsdatum is 1 Julie 2019. Die adjunkhoof, Gerrit Rudolf, sal waarneem totdat die pos gevul is.

Log in with your credentials

Forgot your details?