Watson & Brink Apteek se kampioene

Ettienne Plaatjies (links) en Tony Cleopas wat verantwoordelik is vir Watson en Brink Apteek se toegangsbeheer en sekuriteit, is ook albei uitnemende atlete wat al handevol medaljes losgehardloop het. Foto: Liesel le Roux

WANNEER iemand Watson en Brink Apteek binnestap, is Tony Cleopas (53) of Ettienne Plaatjies (31) dikwels die eerste mense wat hulle raaksien.

Dié twee staatmakers by die apteek wat verantwoordelik is vir toegangsbeheer en sekuriteit, is egter ook wyd bekend as twee gedugte en suksesvolle atlete wat die medaljes inryg.

Volgens Tony ondersteun hul werk­gewer hul deelname aan sport ten volle en dra die apteek ook die koste van hul vervoer en verblyf.

“Ons wil regtig vir hulle baie dankie sê daarvoor,” voeg Ettienne by.

Tony Cleopas sê sy inspirasie om te begin hardloop het begin toe hy gereeld die Comrades gekyk en gesien het hoe Bruce Fordyce presteer.

Dié pa van ses kinders – twee ouer seuns en vier kinders by sy vrou Lizel – sê atletiek het hom gered van sosiale euwels soos drank waarby hy as jongman betrokke geraak het. “Dit is iets waarvan ek die laaste 20 jaar vry is. Was dit nie vir atletiek nie, was ek nie waar ek nou is nie. Dit het die verskil in my lewe gemaak.”

Van Tony se prestasies die afgelope jaar was die volgende: 1ste meesteratleet by die Knysna Heads 10 km (40 min), 1ste algeheel by die Wesbank MTB Trail Run oor 12,5 km (48 min), 4de meester by die Kango Marathon 21 km, goud in die 1 500 m en silwer in die 5 000 m by die WP Meesterskampioenskap in Parow, silwer in die 10 000 m by die SA Meesterskampioenskap in Bloemfontein, ’n tyd van 3:52:00 in die Kaapstad Marathon en die 3de plek in die Petro SA 10 km (42 min).

Ettienne Plaatjies se liefde vir hardloop kom van sy skooldae by De Villiers Primêr en Aurial Kollege toe hy aan beide naellope en langafstandwedlope deelgeneem het. Atletiek het dié gebore Oudtshoorniet al tot in Europa geneem waar hy deelgeneem het, met die hoogtepunt van sy loopbaan toe hy in 2010 die Suid-Afrikaanse 800 m-kampioen geword het.

“Hans van der Veen wat my afrigter was vandat ek op hoërskool aan landlope begin deelneem het, het ’n groot rol in my lewe gespeel. Hardloop het my baie geleenthede gegee, soos om te kon reis en ook op Potchefstroom te kon studeer.”

Ettienne is getroud met Diana en die pa van twee kinders. Hy speel graag met sy kinders, vertel hy, en gesels graag met mense op straat om hulle te probeer help en raad te gee.

Hy vertel dat hy verlede jaar ’n voetbesering opgedoen het en daarna lank nie kon oefen en deelneem nie.

Die afgelope jaar het hy egter weer begin hardloop maar is hy versigtiger en oefen hy slegs een maal per dag en nie twee maal soos tevore nie.

Van Ettienne se prestasies die afgelope jaar was die volgende: 1ste saam met Gershwill Jacobs by die Dryland Traverse, 2de by die Kango Marathon 42 km (2:31), 2de by die Kanniedood 21 km in Beaufort-Wes (1:14), 2de in die Knysnabos 21 km (1:08:32), 2de in die Mandela 21 km in George (1:08:23) en 15de in die Kaapstad Marathon 10 km (30:46). Hy was ook lid van die SWD-span wat in September aan die nasionale 10 km-kampioenskap in Middelburg, Mpumalanga deelgeneem het.

Log in with your credentials

Forgot your details?