‘Wat ons hier doen, doen ons met liefde’

Niekie Eksteen (links) en Soan Jacobs in hul pragtige eetplek wat deel uitmaak van die Village Trading Post in De Rust. Deur die venster is die binnehof agter te sien waar gaste ook kan sit en wat ook na die interessante winkel vol mooi goed lei.  Foto: Schalk le Roux

Niekie Eksteen (links) en Soan Jacobs in hul pragtige eetplek wat deel uitmaak van die Village Trading Post in De Rust. Deur die venster is die binnehof agter te sien waar gaste ook kan sit en wat ook na die interessante winkel vol mooi goed lei. Foto: Schalk le Roux

HOE som ’n mens die Village Trading Post op De Rust in woorde op?
Hulle sê as jy een maal daar was, sal jy altyd weer terugkeer.

Ander vertel dat hulle al draaie van honderde kilometers gery het net om die gasvryheid, warm atmosfeer, mooi interieur, lekker kos en heerlike Lavazza-koffie van die Village Trading Post te ervaar.
En nou is dié leefstyl-eetplek/winkel/kroeg 10 jaar oud.

Hulle is nie een dag spyt dat hulle besluit het om in 2007 uit Pretoria na De Rust te verhuis nie,” sê Niekie Eksteen. Niekie, ’n sjef van beroep, en Soan Jacobs, ’n juwelier en goudsmid, is die eie­naars van dié bekende baken in De Rust.

Niekie en Soan het tien jaar gelede op die ingewing van die oomblik besluit om die gebou te koop waarin die Village Trading Post geleë is nadat hulle deur De Rust gery het.

Hulle vertel dat hulle met ope arms op dié dorpie ontvang is en gou deel van die gemeenskap geword het.

“Dit is heerlik hier vir ons. Ons is betrokke en in September hou ons weer saam met die ander inwoners konsert!” vertel Niekie.

Hulle vertel ook dat baie van hul kliënte al soos familie voel.

“Ons is dankbaar om hier te wees. Wat ons hier doen, doen ons met liefde. Ons probeer die beste doen wat ons kan,” sê Niekie. “Die kos hier word met liefde gemaak. Die mense kom daarvoor en kan dit proe.”

Soan vertel dat hulle oor die jare gereeld veranderings aangebring het soos wat behoeftes van kliënte verander.

Een so ’n verandering was ’n nuwe kroeg­gedeelte wat verlede jaar ingewy is en wat Woensdagaande vanaf 18:00 oop is. Daar is altyd ook op ’n Woensdagaand ’n keuse van twee heerlike geregte om te koop, met inwoners wat hul goed ondersteun en gastehuise wat hul gaste daarheen stuur vir ’n aandete.

“Mense reël selfs verjaarsdagpartytjies op Woensdagaand om dit in ons kroeg te kom hou.”
Ook die restaurant het verlede jaar ’n nuwe voorkoms gekry.

Die winkel aan die agterkant van die restaurant is nog ’n heerlike besoekpunt met ’n unieke inhoud. Hier is talle pragtige handgeweefde katoenprodukte soos dekens, tafeldoeke, handdoeke en voorskote te koop, asook juweliersware – onder meer silwer juweliersware wat Soan vervaardig – asook ligte en glas- en piouterware.

Die Village Trading Post verskaf verblyf ook.

En hul toekomsplanne? Niekie antwoord: “Ons wil net nog harder werk om die Village Trading Post nog beter te maak. Ons wil nog liefde bysit en seker maak dat ons planne nooit opraak nie.”
• Die Village Trading Post is daagliks oop vanaf 08:00 – 15:00.
• Moenie hulle bekendstelling op Woensdag 9 Augustus van die wyne van Kammanassie Blue misloop nie.
• Let asb op dat die Village Trading Post vir ses dae gesluit sal wees tussen Maandag 31 Julie en Sondag 6 Augustus.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?