R54 milj se Eskom-skuld krimp vinnig

Die sprekers by Dinsdag se netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Felix Lötter en George Kersop (tweede en derde van links), by Kobus Theron (links, seremoniemeester) en Gideon Badenhorst (voorsitter van die Besigheidskamer).           Foto: Schalk le Roux

Die sprekers by Dinsdag se netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Felix Lötter en George Kersop (tweede en derde van links), by Kobus Theron (links, seremoniemeester) en Gideon Badenhorst (voorsitter van die Besigheidskamer). Foto: Schalk le Roux

• Munisipaliteit se geldsake in kollig by netwerkaand

Deur Liesel le Roux
LEDE van die polisie se direktoraat vir die ondersoek na priori­teitsmisdade, die Valke, is steeds bykans weekliks by die Oudtshoorn Munisipaliteit as deel van hul voortgaande ondersoek na beweerde oortredinge onder die vorige munisipale bestuur.

Felix Lötter, die munisipaliteit se hoof finansiële beampte, het Dinsdagaand by ’n netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer op ’n vraag uit die gehoor gesê dokumentasie is reeds deur die Valke oorhandig vir moontlike vervolging, maar dat mense sal moet besef dat die wiele van die staat stadig draai.

“Maar dit gaan gebeur. Mense gaan regtig tronk toe. Alles gebeur net baie stadig.”
Raadslid George Kersop, voorsitter van die finansiële portefeulje in die raad, het gesê die afgelope jaar is gekenmerk deur ’n nuwe politieke stabiliteit. “Die geldsake by die munisipaliteit is nog ver van gesond af, maar ons syfers sê dat ons op die regte pad is. Ons werk na ’n skoon oudit wat ongekwalifiseerd is.”
Hy het gesê daar word deur die nasionale en provinsiale regerings deesdae met nuwe oë na die Oudtshoorn Munisipaliteit gekyk. “Ek glo dié munisipaliteit is nou seker een van die beste in die Wes-Kaap.”

• Goeie nuus waarmee Lötter sy voorlegging afgeskop het, was dat nog net R4,5 miljoen van die munisipaliteit se Eskom-skuld van R54 miljoen ’n jaar gelede, betaal moet word. Dié skuld sal deur die volgende twee maandeinde-betalings uitgewis word.

Lötter het daarop gewys dat die hoofoorsaak vir die wanbesteding wat Oudtshoorn in ’n fiansiële krisis gedompel het, ’n gebrek aan selfbeheersing was, wat daartoe gelei het dat daar spandabelrig met fondse omgegaan is.

’n Jaar gelede het die munisipaliteit, behalwe vir die Eskom-skuld, ook gesit met – onder meer – ander agterstallige skuld van R35 miljoen, omdat die South African Local Government Association (SALGA) en die Ongevallekomissaris wat vir drie jaar nie betaal is nie, ouditfooie wat nie betaal is nie, voorwaardelike skenkings van die regering ter waarde van R31 miljoen wat wanbestuur is, ’n vloot voertuie wat nie betaal kon word nie en wat teruggeneem is deur Wesbank en Avis, en ’n personeel van sowat 1 300 mense, wat 500 werknemers meer was as wat dit vir ’n munisipaliteit die grootte van Oudtshoorn moet wees.

Volgens Lötter was die enigste manier om dié krississe en ander aan te spreek, deur die skroewe aan te draai deur streng finansiële beheer, die vermindering van uitgawes om skuld te kan betaal, die optrek van ’n finansiële herstelpan en die hersiening van die begroting.

“Ons het redelike sukses gehad om onsself die jaar uit die skuld te kry. Einde Junie is afgesluit met ’n bedryfsurplus van R92 miljoen wat gegaan het vir die betaling van agterstallige skuld.”

Ander stappe wat geneem is, sluit onder meer in: Die vermindering van die personeelkorps na 800 mense en die rasionalisering van die voertuig­vloot deur voertuie te verminder en seker te maak die regte voertuie word vir die regte werk verkry. Dit het die maandelikse koste van die voertuig­vloot van R600 000 na R300 000 verminder; die onderhoud van die voertuie ingesluit.

Onder die skuld wat gedelg is, was regskoste van bykans R60 miljoen vir sake wat uit die politieke stryd by die munisipaliteit gespruit het.

Die munisipaliteit is egter nog ver van die “ideale posisie” waar hulle in staat sal wees om infrastruktuur in stand te hou en te herstel, het Lötter gesê. Die mikpunt hiervoor is ’n bedrag van R450 miljoen in die bank wat hopelik binne vier tot sewe jaar bereik sal kan word.

“As ons skuld gedelg is, sal ons lenings kan begin aangaan om infrastruktuur te herstel – soos die waterpype en verwaarloosde paaie wat nie onderhou is nie – en om dit na die herstel daarvan te onderhou.”

Lötter het daarop gewys dat vandalisme ’n groot koste vir die munisipaliteit meebring om sekuriteitspersoneel aan te stel om die munisipale infrastruktuur en bates te beskerm.
Hy het inwoners gewaarsku dat die munisipaliteit nie finansieel herstel gaan wees wanneer skuld afbetaal is nie en dat herstel ’n hele paar jaar kan duur.

“Mense het verwag dat alles op Oudtshoorn sommer gou na die oorname van die nuwe raad sou regkom, maar dit werk nie so nie.”

• Vir vergelykende munisipale tariewe: Lötter het inwoners verwys na die webtuiste www.municipalmoney.gov.za as hulle munisipaliteite se tariewe wil vergelyk.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?