Nodig vir groei van ekonomie

Prins Albert se vliegveld.                                                                                                                     Foto: Marlene Malan

Prins Albert se vliegveld. Foto: Marlene Malan

Prins Albert se vliegveld

Deur Marlene Malan
PRINS ALBERT se vliegveld moet behou en opgeknap word, want ’n dorp met ’n vliegveld het ’n baie groter kans op ekonomiese groei as een daarsonder.

Dis ’n bate wat bemarkingswaarde aan die dorp en sy toerismebedrywighede gee, en verskaf prestige omdat dit die beeld van die omgewing bou.

So sê Hans Burger, ’n inwoner van Prins Albert en vlieënier wat sy eie vliegtuig besit. Dié vliegtuig word in die klein vliegtuigloods op die vliegveld net buite die dorp, op die pad na die N1, geberg.

Burger beywer hom al jare vir die instandhou­ding en opknapping van die vliegveld.

“Ek het jare lank in Suid-Afrika gevlieg, en ek kan jou verseker dat dorpe wat nie die vlieggemeenskap dien nie, ’n baie belangrike deel van die ekonomie verloor.”

Burger het ’n kernrol gespeel in onlangse vlug­geleenthede na die dorp. Einde verlede jaar was Prins Albert se vliegveld die laaste stopplek vir die internasionale Crete2Cape-vlugwedloop, en sowat twee weke gelede het die Border Aviation-vlieg­klub van Oos-Londen Prins Albert gekies as eindbestemming in hul jaarlikse langafstand-plesiervlug.

Burger het gereageer op navrae omdat daar sprake daarvan was dat die vliegveld, op munisipale grond, vir landboudoeleindes gebruik gaan word.

Dit blyk egter dié planne is laat vaar vanweë die groeiende belangstelling in Prins Albert as toerismevlug-bestemming.

“Die vliegveld is ’n belangrike deel van die infrastruktuur van ons dorp.

“Prins Albert is afgeleë en toegangspaaie is soms onbruikbaar weens brande, vloede en padongelukke. In die geval van mediese noodgevalle is ’n vliegveld van onskatbare waarde.

“Die Rooi Kruis-lugambulans se bemanning het al aan my gesê met groot ongelukke in die omge­wing waarin ’n paar motors of mini­busse betrokke sou wees, sal dit beter wees om die Rooi Kruis se Pilatus

PC-12-vliegtuig te gebruik, pleks van die helikopter wat gewoonlik by die dorpshospitaal land.”
In sulke gevalle is ’n vliegveld dringend nodig weens die afstand van Prins Albert na Oudtshoorn, Laingsburg en Beaufort-Wes, sê Burger.

“Veiligheid en sekuriteit is nie op die oomblik ’n prioriteit hier nie, maar moet beslis in die toekoms oorweeg word.

“Dit sou ondenkbaar wees dat ons dorp nie ’n vliegveld het wat deur die polisie of die Weermag gebruik kan word om die gemeenskap by te staan nie.”

Nog ’n dringende kwessie is veldbrande in die gebied, volgens Burger.

“Die lughawe hier is noodsaaklik omdat dit ’n heenkome is vir brandbestrydingsorganisasies oor ’n wye gebied.

“ ’n Paar maande gelede het een van ons dorp se inwoners nie teruggekeer huis toe nie na ’n fotografiesessie by die Gamkaskloofdam. Toe het dit goed gewerk om van ons plaaslike lughawe af te vlieg en sy voertuig raak te sien waar dit vasgesit het in diep modder aan die rand van die dam.

“Dis waarom ek sê die waarde van ’n vliegveld vir die gemeenskap moet nooit onderskat word nie.”
As Prins Albert Toerisme daarin sou slaag om die dorp te bemark as ’n bestemming vir langafstandplesiervlugte, “sal dit ’n hupstoot wees vir ons ekonomie. Daar is baie klein dorpies wat dit doen, en in die vlieggemeenskap het dit ’n instelling op hul kalenders geword om na sulke dorpies te vlieg en naweke daar te kuier.”

Linda Jaquet, onderburgemeester, het haar stem by dié van Burger gevoeg en sê die Prins Albertse vliegveld is ’n bate wat behou en opgeknap moet word, omdat dit bydra tot die ekonomiese vooruitgang van die dorp en omgewing.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?