’n Natuurlike maalproses

Links is Nico Steyn, hoofbestuurder van Eureka Meule, by die steenmeul waarmee ko-ring tussen twee groot ronde klipstene fyngemaal word. Bo is die opening waarby die koring ingegooi word van naderby.

Links is Nico Steyn, hoofbestuurder van Eureka Meule, by die steenmeul waarmee koring tussen twee groot ronde klipstene fyngemaal word. Regs is die opening waarby die koring ingegooi word van naderby.

MET die produksie van Eureka Meule op Heidelberg se steengemaalde koringmeel is die fokus op ’n natuurlike, gesonde produk, sê Nico Steyn, meulenaar van Eureka.

Eerstens gebruik Eureka slegs koring wat plaaslik en biologies verbou word op die plase wat aan hulle lewer. Geen geneties gemanipuleerde saad word in die meel gebruik nie, sê hy.

Die koring word fyngemaal tussen twee groot spesiaal vervaardigde stene. Gedurende die maalproses word niks uit die meel onttrek nie. Eureka se wit broodmeel bevat die koringkiem, vesel, natuurlike olies, vitamiene en ensieme wat in koring voorkom. “Nie eens die fyner meel waarvan bakpoeier gemaak word, word uit die meel gehaal nie. Dit maak dit heil- en voedsaam.”

Volgens Steyn word daar ook geen by- en preserveermiddels by Eureka se meel gevoeg nie. Daar word ook geen bleikmiddels, wat ’n negatiewe uitwerking op die natuurlike smaak van meel en gebakte produkte het, in die meel gebruik nie.

Steyn sê sowat 15 jaar gelede is selde gehoor van mense wat “gluten-weerstandig” is. “Nou lyk dit of dit vir die meeste mense ’n probleem is. Die mensdom bak en eet al duisende jare lank brood. Hoekom is dit nou so ’n groot probleem?

“Ek glo om meel op die tradisonele, natuurlike wyse te maal en brood op die tradisionele manier te bak, is gesonder en lekkerder. Om ’n heilsame meel- en broodkultuur in Suid-Afrika te vestig, is ons hoofdoel,” sê Steyn.

Baie bakkers en diegene wat natuurlike kosprodukte aanbeveel, verkies steengemaalde meel as gevolg van die tekstuur en neuterige smaak, en ook omdat hulle glo dit het meer voedingswaarde en verhoog bakgehalte.

• Die koring wat Eureka Meule maal, word biologies in die Suid-Kaap-omgewing verbou en is so naby aan organies as wat kan kom, sê Steyn.

Biologiese landboumetodes behels dat grond as ’n gesonde biologiese stelsel gebruik word om gesonde landbouprodukte te verbou met hoëdigtheidvoedingstowwe wat noodsaaklik is vir mense en lewende hawe.

In die Suid-Kaap pas boere wisselbou toe met peulgewasse, koring, canola, hawer en gort wat hulle op dieselfde landerye afwissel.

Dit dra by tot meer organiese materiaal in die grond en meer gesonde voedingstowwe in die produkte wat daarop verbou word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?