Maatskappy wil in Oudtshoorn belê

Deur Schalk le Roux
’N NUWE maatskappy, Synergy Four, wat uit ’n groep bekende sakemanne van Oudtshoorn bestaan, het baie vertroue in Oudtshoorn se toekoms en beoog belegging in besigheid in die dorp.

Die aandeelhouers is Louis Fourie, besturende direkteur, Brandon Iverach, uitvoerende direkteur, Henco Rademeyer, Hein Jonker, Carel Herholdt en Bernard le Roux. Dié aandeelhouers bied ’n wye verskeidenheid kundighede, vaardighede en ervaring aan die maatskappy.

Synergy Four het reeds sy eerste besigheid bekom, naamlik Ton’s Sport & Cycle in die Queen’s Mall, en het dit Dinsdag, 1 Augustus, oorgeneem.

Rademeyer het Ton’s Sport van 1992 bedryf totdat hy dit in 2015 verkoop het. Dít en die feit dat hy, Herholdt en Le Roux ook die eienaars van Dryland Event Management is, is van groot strategiese waarde vir die fietswinkel. Dryland bied van Suid-Afrika se voorste bergfietsrenne aan waaraan topryers van reg oor die wêreld deelneem.

Volgens Fourie, wie se pa, ook Louis, PNA besit, gaan hulle die winkel geheel en al verander. “Dit gaan ’n nuwe naam, nuwe bestuur en nuwe identiteit kry. Ons het reeds ’n operasionele be­stuurder, Stephan Cornelissen, aangestel. Ons gaan binnekort ’n groot uitverkoping van ons bestaande voorraad aanbied. Daarna beplan ons om die winkel twee weke lank te sluit om dit op te gradeer en dan weer amptelik op 1 September te heropen om dit tot nuwe hoogtes te voer,” vertel hy.

Wat Synergy Four betref, wil die aandeelhouers graag fokus op die Oudtshoorn-gemeenskap se behoeftes deur te belê in klein tot medium besighede.

Volgens Fourie is Synergy Four gebou op vier hoekstene en gaan daar in elkeen van hul beleggings op dié hoekstene gefokus word.

Hierdie vier hoekstene is:
• Gemeenskapsbetrokkenheid en die bou en ondersteuning van netwerke;

• Uitstekende dienslewering wat uiters belangrik is en verder strek as net ’n vriendelike glimlag;

• Die insameling en verwerking van inligting, nie net om produkte waarvoor daar ’n vraag in die gemeenskap is, te bied nie, maar ook om advies, wat op wetenskaplike inligting gegrond is, aan ons kliënte te bied; en

• ’n Gesonde kultuur wat vertroue kweek binne die gemeenskap asook onder kliënte en personeel.
Fourie het beklemtoon al ses aandeelhouers is reeds nou betrokke by Oudtshoorn se gemeenskap en sakewêreld.

“Ons hoop om ’n beduidende verskil te maak aan hoe besigheid in die dorp gedoen word en die diens wat aan kliënte gebied word.”

Synergy Four se visie en missie is om op ’n eerbare en betroubare manier diens aan die gemeenskap te lewer deur in verskeie klein tot medium besighede te belê. Ons wil met onwrikbare dienslewering met die gemeenskap in vennootskap tree om aan ons kliënte ’n onvergeetlike erva­ring te bied.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?