Kollig op vroue: ‘As jy gelukkig is, doen dit’

Vergeet wat ander sê, sê Kobie Raubenheimer 

Kobie Raubenheimer het ’n passie vir karre vanaf kleintyd.           Foto: Ilze-Mari Gründling

Kobie Raubenheimer het ’n passie vir karre vanaf kleintyd.  Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIT is nie algemeen om ’n vrou met ’n skroefsleutel in die hand te sien loop nie.

Dit is ook nie maklik om teen stereotipes te veg en jou passie te volg nie, maar dit is presies wat Kobie Raubenheimer van Oudtshoorn gedoen het en steeds doen.

Dié getroude ma van twee spog met bykans 21 jaar ondervinding in die meganiese bedryf, en vertel dat sy vanaf ’n jong ouderdom op haar gelukkigste was tussen meganiese toestelle.

“My ma het al vir my vertel dat toe ek drie jaar oud was, ek een dag onder my driewiel met ’n stok gelê het. Toe sy my vra waarmee ek besig was, het ek geantwoord: ‘Ek maak hom heg’. Ek het nog altyd ’n passie vir karre gehad, vandat ek kan ont­hou,” sê sy met ’n glimlag.

Kobie se pa het jare lank aan karre gewerk en sy het altyd gehelp.

“Ek het baie by hom geleer. Toe ek 19 jaar oud was, het ek my eerste kar, ’n rooi 1993-Volkswagen Citi Golf Shuttle, se enjin self oorgedoen.”

Sy vertel dat sy karre gediens het om ’n ekstra inkomste te verdien toe sy en haar gesin in De Rust gewoon het.

“Ek het nog nie ’n vaste werk in daardie stadium gehad nie en het karre gediens – die basiese goed soos olie, filters en vonkproppe – en later het ek groter dinge gedoen.”

Kobie was drie jaar lank ’n vakleerling by Oudts­hoorn Nissan. En, ja, voor dit was sy ’n sweiser en duikklopper!

“Ek werk aan karre vandat ek 16 jaar oud is. Ek het al baie geleer – mens kan nooit ophou leer nie – en het al aan verskillende goed gewerk. Meganiese werk is nie maklik nie; daar is baie dinge wat jy self moet uitredeneer en oplees, maar ek geniet dit. Deesdae kan ek nie meer groot projekte doen nie – een van my hande gee moeilikheid, en ek is ook baie bedrywig by my huis.”

Sy vertel dat dit nie altyd maklik was om haar passie te volg nie.

“Ek het al baie lelike boodskappe van verskillende mense ontvang. Party vrouens het al vir my gesê dat ek ’n vrou se naam deur die modder sleep en party mans dink ek kan nie dieselfde werk as hulle doen nie. Ek het altyd net myself herinner dat dit my passie is. As jy lief is vir iets en jy geniet dit, doen dit.”

Kobie vertel dat sy drie lewens­leuses het: Wees altyd bereid om te leer, probeer enigiets, en as jy belangstel, kan jy dit doen.

“Dit is moeilik, maar jy moet vergeet van wat ander mense vir jou sê. Al wat belangrik is, is dat jy gelukkig is.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?