Hein omskep blindheid in geleentheid

Johannes Delport (links), voorsitter van Klein Karoo Eiendoms Beperk (KKEB) se direksie, en Johan Schoeman (regs), uitvoe­rende hoof van KKEB, saam met Hein Wagner, motiveringspreker by KKEB se algemene jaarvergadering. Wagner, wat blind is, het almal teenwoordig geboei met sy vertelling oor die uitdagings wat hy in sy lewe oorkom het.

Johannes Delport (links), voorsitter van Klein Karoo Eiendoms Beperk (KKEB) se direksie, en Johan Schoeman (regs), uitvoe­rende hoof van KKEB, saam met Hein Wagner, motiveringspreker by KKEB se algemene jaarvergadering. Wagner, wat blind is, het almal teenwoordig geboei met sy vertelling oor die uitdagings wat hy in sy lewe oorkom het.

Deur Schalk le Roux
SY blindheid het Hein Wagner, wat die motiveringspreker by Klein Karoo Eiendoms Beperk se algemene jaarvergadering verlede Vrydag was, nie verhinder om uitdagings aan te pak waarvoor baie min mense kans sal sien nie.

Wagner, wat sy praatjie A Blind Man with Vision noem, vertel hy het selfs die Cape Epic Multiskofbergfietsren, wat een van die moeilikste fiets­renne van sy soort ter wêreld is, aangepak. Hy het toe saam met ’n vriend op ’n tandem­fiets gery. Hy vertel op veral die gedeeltes van die roete wat uit kronkelende eenspoorpaadjies bestaan het, het hy hom pimpel en pers geval.

Maar aangesien die woord opgee nie in sy verwysingsraamwerk bestaan nie, het hy elke keer opgestaan en weer gery om die eerste blinde te word wat die Epic voltooi het.

Nog ’n uitsonderlike rekord wat Wagner agter sy naam het, is die landspoedrekord vir blindes. Hy het in 2009 met ’n Mercedes-Benz SL 65 (Black Series) die rekord van 322,52 km/h opge­stel op die aanloopbaan van Upington se lughawe. Sy navigator, ’n oud-renjaer, het hom gehelp om koers te hou.

Wagner, wat in sy jong dae baie opstandig was oor sy blindheid wat deur aangebore Leber-amaurose veroorsaak is, vertel hy het toe hy 22 jaar oud was die Kaap na Rio-wedvaart saam met Neels Troskie, ’n blinde vriend, en Paul Thompson, wat ’n dowe seiljagvaarder is, voltooi.

“Tydens die wedvaart het ek die eerste keer die uitgestrekheid van die ongelooflike skepping ervaar. Ek het besef hoe klein en nietig ek was, maar dit het ook by my opgekom dat ek enigiets kan bereik as ek bereid was om hard te werk en aan te hou. Dit het ’n kentering in my lewe teweeg gebring,” vertel Wagner.

Van die ander ekstreme uitdagings wat Wagner daarna oorkom het, was om die Antarktika-ma-rathon, die Two Oceans, die New York-marathon en die Ystermankompetisie te voltooi. Hy het ook die stroomversnellings van die Zambezirivier aangedurf, die tien hoogste bergpieke in die Wes-Kaap geklim en valskerm gespring.

Met sy kenmerkende sin vir humor en vermoë om met homself en sy blindheid te spot, het hy vertel iemand het hom een keer gevra hoe hy weet hy is naby aan die grond as hy valskermspring. “As blinde weet jy jy is naby aan die grond as jou gidshond se leiband slap raak,” het hy onder groot gelag gesê.

Tydens sy praatjie het Wagner ook na verskeie “universele wette” verwys, onder meer die wet om te waardeer wat jy het. Hy vertel iemand het eenkeer vir hom gevra of hy sal verkies om blind of doof te wees. Sy antwoord was hy sal verkies om nie blind en doof te wees nie.

Wagner, wat sy beroepsloopbaan as skakelbord-operateur begin het, het later tot die inligtingstegnologiebedryf toegetree waar hy homself opge­werk het tot ’n internasionale verkoopsbestuurder met ’n span siendes onder hom.

In 2004 het Wagner ’n voltydse motiveringspreker geword. Met sy humoristiese benadering tot die lewe het hy die kollig laat val op die ligter kant van die lewe in ’n donker wêreld, wat by gehore wêreldwyd aanklank vind.

Hy het met sy lewensbenadering sy blindheid in ’n geleentheid omskep.

Wagner het in Augustus 2014 ’n ere Golden Key-toekenning van die Universiteit van Stellenbosch ontvang vir sy volgehoue toewyding tot maatskaplike opheffing. Hy is handelsmerk-ambassadeur vir Kaleidoscope, ’n nie-winsgewende organisasie in Suid-Afrika wat blindes ondersteun om hul volle potensiaal te bereik.

Om meer oor Wagner en sy avonture te wete te kom, doen net ’n Google-soektog op die internet. Daar is heelwat artikels en You Tube-video’s oor hom wat die moeite werd is om na te kyk.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?