Handgemaakte meubels by McWOODS!

Deur Wyndham Ewerts
’N UNIEKE meubelwinkel waar die meubels deur die eienaar met die hand gemaak word, McWOODS, het vandeesmaand sy deure in Hoogstraat geopen. McWOODS is langs Plaspac geleë.

Volgens Sherman McBean, eienaar van McWOODS, het hy nie op skool houtwerk as vak geneem nie, maar het hy later besef hy het ’n natuurlike aaanvoeling daarvoor om met hout te werk.

“Ek het eers drie jaar gelede my houtwerkvaardigheid werklik ernstig begin opneem.
My oorlede skoonma, Daphne Thomas, het my altyd aangemoedig en gereeld my handewerk gekomplimenteer toe ek werkloos was.

Dit het my selfvertroue en geloof in my vaardigheid daadwerklik versterk, en vanjaar het ek besluit om my talent na die kommersiële mark te neem.”

Alle meubelstukke wat by McWOODS verkoop word, is van hoë kwaliteit hout en kom met ’n sesmaan­de-waarborg. Kliënte kan ook meubels op bêrekoop aanskaf.

“Ek was destyds ’n kranige kortafstand-atleet wat gereeld skouers geskuur het met groot name in die atletiekwêreld soos Wayde van Niekerk.

’n Ernstige besering het egter my loopbaan gekniehalter, maar my passie en vakmanskap in houtwerk het weer my menswaardigheid teruggegee,” vertel Sher­man.

“My boodskap aan alle jongmense is dat niks by God onmoontlik is nie.

Sherman sê een van sy gunsteling meubelstukke in die winkel is sonder twyfel die “Edu-Fun” bed wat geïnspireer is deur sy seun Sage. Hierdie bed is ontwerp met die doel om kinders te motiveer om hul skooltake doen.

Die bed bestaan uit ’n boverdieping-bed met trappies, ’n glyplank langs die kant asook ’n studeertafel met twee stoele.

Dan is daar ook ’n luukse dubbelbed wat hy “The Daphne”-reeks gedoop het as ’n eerbetoning aan sy oorlede skoonma.

Sherman beoog om ’n volledige brosjure vir McWOODS saam te stel.

“Geen houtwerk-meubelstuk onder die son is vir my onmoontlik om te maak nie,” vertel hy met geesdrif.

“My groot droom is om eendag nog takke op naburige dorpe te open.”

Sherman beoog ook om jong, belowende houtwerk-leerlinge met internskappe te slyp by sy studio.

Voornemende kliënte kan ook sy handgemaakte houtmeubels op McWOODS se Facebook-blad besigtig.

Skakel vir navrae 0786544347 of stuur ’n WhatsApp na 0638413327 (Sandy) of e-pos na
mcwoodsinfo@gmail.com.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?