Dit gaan goed by Barrows se Le Lude

DIT gaan baie goed by Le Lude, die wynlandgoed van Nic en Ferda Barrow, in Franschhoek.
Hier word Cap Classique van uitmuntende gehalte gemaak, wat so gesog is plaaslik en in die buiteland dat Le Lude nie kan voorbly met produksie nie.

Nic Barrow sê hulle gaan hul Cap Classique-kelder eersdaags vergroot en terselfdertyd ook die Orangerie Restaurant langs die kelder verdubbel sodat hulle beter in die aanvraag kan voorsien.
Le Lude gaan vanjaar 100 000 bottels Cap Classique botteleer en mik daarna om oor vier jaar 200 0000 bottels Cap Classique per jaar te botteleer.

“Omdat ons nie kan bybly met bestellings nie, moet ons voorraad allokeer en aan kliënte beskikbaar stel soos dit beskikbaar raak,” vertel hy.

Barrow praat met groot lof van die wynmaker van Le Lude, Paul Gerber. Gerber is die enigste persoon buite die Champagne-distrik in Frankryk wat al ’n Les chevaliers de l’arc – Confrérie de Saint Vincent du Mesnil sur Oger- toekenning ontvang het.

Le Mesnil sur Oger is een van die belangrikste dorpies in die Côtes des Blancs in Champagne. Dit is baie bekend vir die Grand Cru Chardonnay wat daar gemaak word.

Barrow sê dit was vir hom ’n riem onder die hart toe van Le Lude se produkte verlede jaar toppunte in ’n wynkompetisie van die internasionaal hoog aangeskrewe Decanter-wyntydskrif ontvang het.

• Die volgende twee soorte Cap Classique word op Le Lude gemaak:
BRUT NV wat gemaak word van die kultivars Chardonnay (72%) en Pinot Noir (28%). Die BRUT NV het onder meer aromas van elegante sitrusbloeisels met vars lemmetjie, en sekondêre aromas van nougat en geroosterde neute.

Die ROSÉ NV wat gemaak word van 60% Pinot Noir, 37% Chardonnay en 3% Pinot Meunier-druiwe. Die ROSÉ NV het aromas van ryp kersies en aarbei asook ’n tikkie pomelo en wilde rose.

Die druiwe vir Le Lude se Cap Classique kom van Robertson, Bonnievale en Franschhoek en word aangevul deur die wingerde op Le Lude. Die druiwe word vroegoggend met die hand gepluk en trosse word heel gepars. Die Cap Classique word vir drie jaar verouder voordat dit mark toe gaan.
Le Lude stel ook later vanjaar sy eerste 2012 oesjaar vry asook Suid-Afrika se eerste Agrafé. Laasgenoemde is ’n eeu-oue metode om die vonkelwyn vir langer as 36 maande onder kurk te verouder.
• Nog inligting: www.lelude.co.za

Log in with your credentials

Forgot your details?