Die Kolonie tydelik toe vir opgraderings

• Positief oor dorp se toekoms

DIE Kolonie Restaurant by die Queen’s Hotel in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn, is van Sondag, 28 Mei, tot Maandag, 12 Junie, gesluit vir opgraderings.
Die bedrywighede by die Queen’s Hotel sal nie deur die opgraderings geraak word nie, sê Henco Rademeyer van Klein Karoo Fonds (KKF) aan wie die hotel behoort.
“Ons gaan normaalweg voort en etes vir ons gaste sal in die hotel se ontbytsaal aangebied word terwyl die opgraderings gedoen word.”

Volgens Rademeyer is die opgraderings aan Die Kolonie, die aangrensende sitkamer en balkon alles deel van ’n groter opgraderingsplan van die hotelkompleks.
“Die hotel se kombuise is eerste opgegradeer waarna Café Brule, die ontbytlokaal, die kamers en die badkamers gevolg het met Die Kolonie wat nou gedoen gaan word,” sê hy.

Die opgraderings van Die Kolonie sal so gedoen word dat die klassieke karakter van die restaurant gehou word.

“Dit sal steeds ’n ouwêreldse gevoel hê, maar met ’n luukse ondertoon en ’n groter fokus op gerief.”
Twee mooi, doeltreffende kaggels is ook deel van die opgradering.

’n Gedeelte van die restaurant sal ook ingerig word vir groepe wat op hul eie wil kuier.
Die opgraderings word gedoen onder leiding van Alie Killian en De Villiers Neethling, albei direkteure van die hotel. Hulle het ontwerpkundiges geraadpleeg met die beplanning van die opgrade­rings.
Volgens Rademeyer doen KKF die opgraderings omdat al die aandeelhouers baie positief is oor Oudtshoorn se toekoms asook die toerismepotensiaal van die dorp en streek.
“Besprekings vir die twaalf maande wat voorlê lyk reeds goed.
“Ons was ook by die pas afgelope Toerisme In­daba in Durban en kundiges daar het gesê alle aanduidings is daar dat toerisme se toekoms in Suid-Afrika rooskleurig is en ’n stewige groei in die bedryf oor die volgende paar jaar landwyd verwag word,” het hy gesê.
Ter afsluiting het Rademeyer almal wat by Die Kolonie kom uiteet, bedank vir hul ondersteuning. “Ons glo julle sal in die toekoms ’n nog aangenamer uiteet-ervaring hê.”
Rademeyer het gesê die amptelike opening van die “nuwe” Kolonie sal in die media aangekondig word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?