Dié baken kry nuwe eienaars

Danie en Ronel Pieterse by die ingang van die Swartberg Hotel.    Foto: Marlene Malan

Danie en Ronel Pieterse by die ingang van die Swartberg Hotel. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
DIE Swartberg Hotel in Prins Albert, seker die dorp se bekendste baken, het nuwe eienaars.
Danie en Ronél Pieterse, wat voorheen in Noord­­wes en Namibië geboer het, het die hotel begin Julie oorgeneem by Charon Landman, wat steeds mede-eienaar is van The Showroom Theatre op die dorp.
Volgens die Pieterses het Prins Albert se landelikheid en die kosmopolitaanse gemeenskap en toe­riste hulle daarheen gelok. “Ook dat mense wat al lank hier woon of selfs onlangs hierheen verhuis het, gekom het om te bly,” sê Danie.

Die egpaar vertel hulle het ’n hele paar maande rondgereis op soek na die regte sakegeleentheid, en ná vele oorwegings besluit om die Swartberg Hotel te koop en hulle in dié skilderagtige dorp te vestig.
Volgens Ronél “is ons in wese ware boeremense. Ons het jare lank in die Noordwes-provinsie, in die Bray- en Tosca-omgewing, geboer. In 2012 het ons na Namibië geëmigreer, waar ons ons in die suide, in die Grünau-gebied, gevestig en met skape geboer het. Verlede jaar het ons egter na Suid-Afrika teruggekeer en besluit om die boerdery te groet.”

Danie is ook ’n professionele jagter, en die Pieterses het jare lank hul eie jagplaas en lodge bestuur, waar hulle veral saam met buitelandse jagters gejag en hulle gehuisves het. “Ons het dit baie geniet om met die jagters te werk, en dit was dus ’n natuurlike uitvloeisel om ’n besigheid binne die gastebedryf te koop en self te bestuur,” volgens Danie.

Ronél was voorheen ’n onderwyseres, met veral ’n passie vir die kunste. “Ek was jare lank nóú betrokke by die ATKV-redenaars, ATKV-debat asook tienertoneel. Prins Albert se pragtige teater met sy vol en veelsydige program het my finaal oorrreed dat hierdie dorp die plek is waar ons ons moet vestig. Ek sou beslis betrokke wou raak by kultuur- en liefdadigheids­aktiwiteite en die landbou­bedryf.”

Van hul ander doelwitte is om nie net die hotel nie, maar die hele dorp aktief te bemark. “Ons wil die hotel se konferensieaktiwiteite uitbrei en dalk nóg vestig. Sodoende kan ons die hotel met sy ryk historiese geskiedenis asook Prins Albert en sy toe­rismebedryf ’n hupstoot gee.”

Die Pieterses vertel hulle ken die platteland goed en het waardering en respek vir sy inwoners, en veral ook vir boere en boerderybedryf. “Ons nooi almal uit om ons by die hotel te kom ontmoet, met die hoop om nuwe vriendskaps- en besigheidsbande te smee. Ons het Prins Albert gekies omdat ons glo ons sal gelukkig wees hier en ’n positiewe bydrae kan lewer tot die gemeenskap.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?