Sentrum maand langer oop danksy drie restaurante

StreetSmart SA, ’n organisasie wat landwyd betrokke is by hulp aan straatkinders, het Dinsdag R25 000 aan die St Francis Invalsentrum op Oudtshoorn oorhandig. Die geld is ingesamel met die hulp van klante van die restaurante by Karusa, Turnberry Boutique Hotel en Boulders Lodge en Spa op Oudtshoorn. Hier van links is Desmond George (bestuurder van die invalsentrum), Chantelle van der Merwe van Famsa Karoo wat die invalsentrum bedryf, en Melanie Burke, voorsitter van StreetSmart SA.

StreetSmart SA, ’n organisasie wat landwyd betrokke is by hulp aan straatkinders, het Dinsdag R25 000 aan die St Francis Invalsentrum op Oudtshoorn oorhandig. Die geld is ingesamel met die hulp van klante van die restaurante by Karusa, Turnberry Boutique Hotel en Boulders Lodge en Spa op Oudtshoorn. Hier van links is Desmond George (bestuurder van die invalsentrum), Chantelle van der Merwe van Famsa Karoo wat die invalsentrum bedryf, en Melanie Burke, voorsitter van StreetSmart SA.

Deur Liesel le Roux
STREETSMART SA, ’n nie-winsgewende organi­sasie wat werk vir die opheffing van straatkinders, het Dinsdag R25 000 aan die St Francis Invalsentrum op Oudtshoorn oorhandig.

Dié geld maak dit vir die invalsentrum – wat beskikbaar is vir weerlose kinders en kinders op straat – moontlik om sy deure tot die einde van die jaar oop te hou. Die sentrum sou sy deure die einde van November moes sluit as gevolg van ’n tekort aan fondse. Die invalsentrum word deur Famsa Karoo bedryf.

StreetSmart SA het die R25 000 ingesamel deur R5-donasies van klante van drie restaurante op Oudtshoorn, naamlik die restaurante by Karusa Wyne, Turnberry Boutique Hotel en die Boulders Lodge en Spa.

StreetSmart SA is in 2005 onder die leiding van aartsbiskop Desmond Tutu gestig en sluit vennootskappe met restaurante, verblyfplekke en wyn­kelders wat hul klante die geleentheid bied om R5 ekstra te betaal. Dié R5-bydraes word dan jaarliks ten volle aan die dorpe en stede waar StreetSmart SA-vennote is betaal.

Melanie Burke, voorsitter van StreetSmart SA, het Dinsdag by die oorhandigingsgeleentheid wat by Karusa Wyne buite Oudtshoorn gehou is, verblyfplekke, wynkelders en restaurante aangemoedig om betrokke te raak by die inisiatief en so die lewens van straatkinders te verbeter. Daar is geen koste daaraan verbonde om by StreetSmart SA betrokke te raak nie.

Op sy beurt betaal StreetSmart SA alle fondse wat so ingesamel word, oor aan ’n goedgekeurde organisasie op die betrokke dorp wat straatkinders ophef.

Niel Els, voorsitter van Famsa Karoo, sê Famsa Karoo is nederig dankbaar oor die vrygewigheid van die klante van die drie Oudtshoorn-restaurante wat StreetSmart SA ondersteun.

“Die donasie help letterlik om die St Francis Invalsentrum nog ’n maand oop te hou.

“Om ’n kind te red van ’n lewe op straat is meer waardevol as die moeite wat dit verg om by StreetSmart betrokke te wees.”

Els sê hy glo dat verblyf- en restauranteienaars en hul klante ’n groot maatskaplike verantwoordelikheid het.

“Ons kinders is ons toekoms. Jou R5 kan ’n verskil maak.

“StreetSmart SA is een van net enkele liefdadigheidsorganisasies waar elke sent wat via die StreetSmart-program ingesamel word, direk en slegs aan die genomineerde straatkindprojek op ’n dorp of in ’n stad gaan. Administrasiefooie en salarisse word deur borge wêreldwyd betaal. Ons is trots om deel te wees van hierdie inisiatief.

“Dit is gebiedend noodsaaklik dat Oudtshoorn moet optree met betrekking tot kinders op straat.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?