Cafe-De-Move-On – Nou oop by Wes-Handelshuis

FotoCTMObuite

FotoCTMOjaco

Lekker gesellige kuierplek langs R62

CAFE-DE-MOVE-ON, ’n lekker gesellige koffie-winkel en kuierplek met lekker eetgoed is nou by Wes-Handelshuis in Voortrekkerweg op Oudtshoorn ingerig.

Onder die lekkernye is koek, spesiale toebroodjies, croissants en pasteitjies, alles lekker vars gebak.
Wat Cafe-De-Move-On uitsonderlik maak, is dat net ’n glasmuur die restaurant skei van Camp Bakery wat ook deel van Wes-Handelshuis is. Kliënte kan dus sien hoe die brood en ander produkte in die moderne bakkery voorberei en gebak word.

Jaco Vorster en Johan van Heerden, eienaars van Wes-Handelshuis en Camp Roadhouse, vertel vandeesweek toe die perseel langs Wes-Handelshuis waar altyd ’n slaghuis was, beskikbaar geraak het, het hulle die geleentheid aangegryp om die bakkery na dié groter perseel te skuif en die koffiedrinkplek uit te brei na die ruimte waar die bakkery was.

Hulle het ’n mooi plankvloer en ’n gesellige kaggel ingesit, dit gerieflik ingerig vir lekker kuier met tafels en ’n groot rusbank. Deure na buite is ook aangebring en met ’n tafeltjie of twee op die sypaadjie.

Daar is ook rakke met plaaslike produkte soos olyfolie, kaas, beskuit, koekies en ’n verskeidenheid tuisgemaakte konfyt. Kliënte kan ook gevriesde etes koop om by die huis te gaan eet. Kliënte kan ook blomme daar koop.

Die naam Cafe-De-Move-On het ’n interessante geskiedenis wat terugdateer tot 10 Februarie 1941. Jaco vertel die destydse eienaars van Camp Roadhouse, JHJ Potgieter en H Pocock, wat twee boesemvriende was, het ’n spesiale mobiele winkeltjie ingerig wat deur ’n perd getrek is om van Camp Roadhouse se produkte in die destydse weermagkamp, wat was waar die Infanterieskool vandag is, te gaan verkoop. Britse soldate is in daardie tyd daar opgelei om aan die Tweede Wêreldoorlog, wat tot 2 September 1945 geduur het, te gaan deelneem.

Dié mobiele winkel is Cafe-De-Move-On genoem. Jaco is in besit van die permit (foto hiernaas) wat op 10 Februarie 1941 uitgereik is om aan Potgieter en Pocock toestemming te gee om in die weermagkamp te gaan handeldryf.

Wyle Soon Potgieter, wat ’n geskiedenisonderwyser by die Hoërskool Oudtshoorn was, was ’n nasaat van JHJ Potgieter. Hy het navorsing gedoen oor die geskiedenis van Camp Roadhouse en het die ou permit, wat in sy besit was, aan Jaco toevertrou.

En dit is waar die naam van Café-De-Move-On vandaan kom. “Vir ons is die naam ook simbolies in dié opsig dat ons met die uitbreiding van die koffiewinkel as’t ware aanbeweeg met die ontwikkeling van ons onderneming.

Cafe-De-Move-On is ook gerieflik vir toeriste en enigiemand anders wat deur Oudtshoorn ry aangesien dit langs die R62 is. “Kliënte is welkom om vinnig in te kom, iets te drink en te eet of sommer weg te neem. Van daar die “Vat jou paai en waai” wat in ligte trant deel van die embleem is. Kliënte is egter altyd welkom om lekker te kuier so lank hulle wil!

“Met dié uitbreiding wil ons sommer nuwe energie in hierdie deel van die dorp blaas en sommer ook weer sypaadjiekuier vestig. Ons rig ’n hartlike uitnodiging aan almal om te kom kuier en sien wat hier aangaan,” sê Jaco.

Cafe-De-Move-On se ure is van 06:30 tot 22:00.

Die personeel van Cafe-De-Move-On wat kliënte gaan bedien, is van links Rochelle Moos, Robin Kemmies en Shaida Jacobs.

Die personeel van Cafe-De-Move-On wat kliënte gaan bedien, is van links Rochelle Moos, Robin Kemmies en Shaida Jacobs.

Die permit wat in op 10 Februarie 1941 uitgereik is sodat Camp Roadhouse se mobiele kafee, Cafe-De-Move-On, in die destydse weermag-kamp kon gaan handel dryf.

Die permit wat in op 10 Februarie 1941 uitgereik is sodat Camp Roadhouse se mobiele kafee, Cafe-De-Move-On, in die destydse weermag-kamp kon gaan handel dryf.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?