Watter karre en waar…?

Deur Arno Greyling

Deur Arno Greyling

Ek het nou onlangs afgekom op ’n baie goeie artikel op die webtuiste Wheels24 wat vertel watter karre waar vervaardig word.

Die skrywer het tong in die kies geskryf dat die enigste vasteland wat nie motors vervaardig nie, Antartika is, tensy jy drywende ysblokke as ’n motor wil aansien!

Streng gesproke vervaardig Suid-Afrika ook nie motors wat eie aan ons land is nie.
Die fabrieke wat hier is, sit voertuie aanmekaar uit panele wat ingevoer word.

Die uitdaging is dus om plaaslik vervaardigde inhoud te gebruik aangesien plaaslike inhoud ’n baie be­lang­rike voorvereiste is vir die in­voerbelastingtoegewings wat die motornywerheid vanaf die regering ontvang.

Maar kom ons gaan kyk sommer vir interessant­heid wat word waar vervaardig.

Wat my die meeste verbaas het, is die feit dat Afrika ook kan spog met drie inheemse vervaardigers!
Een daarvan is geleë in Nigerië wat ’n jaar of twee gelede ons geliefde land verbygesteek het wat die grootte van die ekonomie betref. Daar word die Innoson Motors Umu vervaardig, wat ’n familiegrootte sedan is.

In Morokko maak hul die Laraki Epitome, ’n gedroggie wat jou herinner aan Batman se wiele.
En in Tunisië word ’n bakkie genaamd die Wallys Iris gebou.

As ons loer na die ander kontinente sien ons dat Suid-Afrika se gewildste ontwerpe vanaf Europa kom.
Duitsland spog met vervaardigers soos Mercedes Benz, Audi, BMW en Volkswagen. Frankryk het vir Renault, Bugatti en Peugeot.

Die Italianers is bekend dat hulle die wêreld se mees begeerlike vuur­waens bou wat fabrikate soos Alfa Romeo, Ferrari, Fiat en Lamborghini insluit.

Die Engelse het ook ’n stewige motorbedryf waar onder andere Range Rover, Mclaren, Mini en Rolls Royce die lig sien.

In Noord-Amerika word die alom­bekende Ford, Chevrolet, Jeep, Lincoln en Buick’s gebou. Ook Tesla word daar vervaardig.

Tesla word tans beskou as die voorloper in die stryd om motors op die pad te sit wat alternatiewe energie gebruik en sonder bestuurders hul weg kan vind.

’n Land soos Brasilië spog met drie vervaardigers, en as ons om die wêreld glip, kom ons uit by Indië en China waar alle bekende vervaardigers die voet in die deur probeer kry. In Indië is Tata seker die bekendste met China wat spog met GWM en Geely.

Japan is die land wat seker die grootste impak het wat motors betref, met Toyota, Mazda, Honda en Nissan, om maar ’n paar te noem. Die Koreane met Kia en Hyundai is besig om wêreldwyd sterk impak te maak, veral op die gebied van gehalte.

En die Aussies maak verskeie handelsmerke, hoewel vervaardiging ook by hulle, soos hier, diep in die moeilikheid is weens die onmededingende koste van arbeid. Holden is die be­kendste Aussie-handelsmerk.

Daar word beraam dat 165 000 karre PER DAG in die wêreld vervaardig word. Amper ondenkbaar. ’n Reuse bydrae tot die wêreldkonomie. ’n Dinamiese nywerheid wat baie interessante wendings gaan neem in die volgende 10 jaar.

Tot ’n volgende keer…

Motors was net so belangrik soos die paartjies by die Hoërskool Zwart­berg op Prins Albert se matriekafskeid die naweek. Meer oor die matriekafskeid op Die Hoorn se Facebookblad.   Foto: Marlene Malan

Motors was net so belangrik soos die paartjies by die Hoërskool Zwart­berg op Prins Albert se matriekafskeid die naweek. Meer oor die matriekafskeid op Die Hoorn se Facebookblad. Foto: Marlene Malan

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?