Wat maak ons hier?

Deur Johan Strasheim

Ek het al vertel van ons besoek aan Egipte en die senutergende rit na Kairo se lughawe toe.

Ons was uiteindelik daar. Die taxirit daarheen was ’n toets in uithouvermoë. Wonder bo wonder was ons bagasie ook alles daar.

Die toue op die klein Fiat se dak het sowaar gehou!

Ons kyk vir mekaar en dink: “Wat maak ons hier?”

Die EgyptAir-nagvlug vertrek laat die aand, doen vroeg die volgende og­gend aan in Harare en gaan dan Johannesburg toe. In teorie klink alles ­na­­­tuurlik eenhonderd persent.

Die lughawe is ’n woelige affêre en ’n opperste oopgetrapte miernes met mense wat in alle rigtings loop en la­waai. Alle internasionale lughawens is maar ’n kosmopolitaanse mengelmoes van klanke, kleure en geure, maar hier­- die lughawe is net ’n raserige mengelmoes. ’n Groot klomp mense wil nog iets aan ons probeer verkoop ook.

Ons is nou keelvol en wil net die Nyl­­­ri­vier, piramides en woestyn se stof agterlaat. Dit is moeilik om te glo dat hierdie land ook in Afrika is!

Wat voel soos ’n ewigheid later sit Romana en ek op die vliegtuig, ge­dul­dig en wag.

Die vlug is baie vol en daar hou aan mense aan boord kom. Soos wat ons nou al oor die jare gesien het, is daar die gebruiklike klomp wat met tasse opklim wat eintlik ­­­inge­­­boek moes gewees het. Dit is een van my top-frustrasies. Wat natuurlik nog beter op die irritasieskaal is, is as een van ­hul­le vir jou wil vra om te help om die tas in die oorhoofse bêreplek in te kry omdat hulle te kort is of te swak is of die tas eenvoudig te swaar is.

Hulle maak oogkontak, maar dit is in my geval ’n doodloopstraat. Dit is wanneer ek my dom hou, maak of ek doof is en die drommel met ’n strak, glaserige uitdrukking aanstaar, of sommer net teruglê en my oë toemaak. Moenie jou probleem myne maak nie, sê ek mos.

Nou ja, daar gaan ons ná ’n wyle. Omdat dit ’n nagvlug is, probeer ’n klomp mense natuurlik ’n ­­­­gefo­r­seerde slapie inkry. Jy het immers niks anders om te doen nie.

Skuins voor ons was ’n groot ou op die sitplek langs die paadjie. Hy het sy sitplek soos ’n ­buf­­­fel teruggedruk tot op die ou agter hom se bene. Die kêrel het natuurlik luidkeels daaroor geprotesteer en die lugwaardin moes naderhand kom help en onderhandel. Jy wens maar die tyd verby.

Die landing in Harare die volgende oggend was maar rof, presies soos ek dit verwag het. Hulle kondig af dat al­mal wat Johannesburg toe gaan, moet bly sit en slegs die passasiers wat Hara-re toe gaan, mag afklim. Daar staan ’n hele klomp mense op, gryp hulle handbagasie en stroom kekkelend by die deur uit. Nie lank nie, of so driekwart van die klomp loop weer terug met hulle handbagasie en neem hul plekke in toe hulle agterkom ons is nog nie in ­Johannesburg nie. Daar is nie pille vir domgeid nie. As iemand dit vir my vertel het, sou ek hom nie glo nie. Hoe deur die blare kan ’n mens nou wees?

Uiteindelik… eindnadering in Johan­nesburg. Die bekende en die be­ska­wing wink. Daarmee kom die volgende irritasie.

Waarom dink ­­­­som­­mige passasiers dat die instruksie “please fold away your tray table, put your seat upright…” net van toepassing is op die ander 200 mense op die vliegtuig?

Die landing gee my nuwe respek vir Boeing se ingenieurs wat die ­vlieg­­­tuig­onderstelle ontwerp. Die vliegtuig ry as ’t ware in die grond vas en wip seker 100 meter vêr voordat dit weer in die grond vasvlieg en daarna rukkend en sidderend onder beheer en tot ­stilstand gebring word.

As jy self vlieg­tuie kan vlieg, is jy seker meer krities oor sulke goed – veral as jy weet dit kan beter gedoen word. Nou ja, ons is hier in een stuk. Genade. Dit was ­lank­­­­laas so lekker om Afrikaans te hoor by die immigrasiebeheerpunt! Beslis oos wes, tuis bes!

Die volgende dag is ons weg see toe. Dié keer met my aan die stuur van die vliegtuig – en die landing by ­Plet­­ten­bergbaai was so glad soos seep. Dit kan gedoen word. Dit help seker as jy self vir die vliegtuig se ­­­­instandhou­­­­­­­ding en die bande betaal!

Log in with your credentials

Forgot your details?