Vier die feestyd met eenvoud!

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit

’n Paar jaar gelede het ek deur Morokko en Spanje gereis, en myself belowe dat ek ’n olyfboom in Pringlestraat se tuin gaan plant as ek by die huis kom. Ter herinnering aan die plekke en mense
wat ek beleef het. Hulle kos. Hul integriteit.

En hul eenvoud wat my so diep geraak het.
En so het sy gegroei, haar takke gesprei, en nou het daai olyfboom die kroonjuweel van die feesseisoen geword, ons Kersboom. Swanger met honderde miniatuur-olyfies, en vol belofte van ons eerste olyfoes in Pringlestraat.

Ons het ons feetjieliggies uitgehaal, en haar bedruip en gekroon met fees – juwele. En toe sy perfek getooi is, het ons balle gehang aan my geliefde pruimboom. Groot silwer balle wat laag onder die takke uitloer.

En daisyliggies wat haar stamme binne soos feetjieland verlig. En daarna houers vol teekersies
onder die druiweprieël gehang. En toe alles klaar is, het ons ’n langtafel aangedra, geliefdes genooi,
vuur gemaak, en onder die Karoonag die feesseisoen langs die Kersboom begin.

En gesê hoekom ons lief is vir mekaar. En gepraat oor laatswemaande, kampvakansies, braaivure en taai seelywe. En die wonder van die lewe. Daar’s min plekke in die wêreld soos ons Oudtshoorn-somersaande, soel en vol belofte. En na ’n lang moeilike jaar
is die begin van die feesseisoen uiteindelik hier.
Mens voel dit aan jou lyf, en in die lug.

Mag ons hierdie feesseisoen vier met eenvoud. En liefde. En bowenal met dankbaarheid en compassion. Vir soveel van ons mense wat tans veg vir net nog een Kersfees saam met hulle mense. Vir hulle wat die stryd gewen het, of die stryd verloor het. En vir ons wat met nog ’n jaar geseën is om getuie te kan wees van die mense wat ons liefhet se lewe.

En vir die voorreg om saam met hulle weer Kersfeesliggies te kan aansit.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?